Net twee van die koeie is nie dood nie. Die twee koeie moes Donderdagoggend inderhaas geslag word nadat dit duidelik geword dat hulle nie gaan oorleef nie, sê mnr. Rufus Dreyer van die plaas Grass Ridge. Dreyer boer met sowat 1 200 koeie op dié melkplaas. Hy het in 2004 daar begin boer.

Hy sê soos elke oggend was hulle teen 08:00 klaar gemelk, waarna die diere na die kamp is waar hulle deur die dag wei. Die koeie was deel van ’n groep van sowat 520 melkkoeie wat saam in die kamp gewei het. “Dit was effe reënerig en warm met hoë humiditeit en mistigheid,” vertel Dreyer. “Ons het al vantevore elektriese storms in sulke toestande gehad. Ons vermoed die weerlig het die diere teen 11:00 getref.”

Van sy werkers het op die diere afgekom toe hulle na die kamp toe is.

“Een van die diere het erge wonde gehad van die impak van die weerligstraal. Op ander was tipiese skroeimerke sigbaar,” sê Dreyer.

Van die koeie wat doodgeslaan is was dragtig. Foto: Mnr. Rufus Dreyer
Die massagraf wat Dreyer gegrou het om die karkasse te begrawe. Foto: Mnr. Rufus Dreyer
Van die diere wat doodgeslaan is. Foto: Mnr. Rufus Dreyer
Skroeimerke was op van die diere sigbaar. Foto: Mnr. Rufus Dreyer

Verlies kan meer as R800 000 wees

Die 64 koeie wat dood is, was in verskillende stadiums van laktasie. Van hulle was dragtig. Die diere het sowat 1 250 liter melk per dag gelewer.

Dreyer sê sy verlies aan inkomste net ten opsigte van die diere se potensiële melklewering kan van R700 000 tot R800 000 wees. “Dit sluit nog nie die waarde van die diere self in nie.”

Die diere was nie verseker nie weens die aard en koste verbonde aan die versekering van vee.

Volgens Dreyer het van die ander diere wat in die kamp was, se elektroniese oormerkers nie Donderdagoggend by die melkstal gewerk nie. “Die diere sal nagegaan moet word om te bepaal of hulle moontlik ook getref is.”

Van Dreyer se bure het hom bygestaan om die dooie diere na ’n massagraf te vervoer, waar die karkasse aan die brand gesteek is voordat die graf toegestoot is.

Derde terugslag in twee jaar

Dit is die derde keer in twee jaar dat Dreyer ’n klomp diere verloor het. Op 26 April 2016 het ’n Eskom-kraglyn op sy plaas gebreek, op 23 van sy koeie geval en hulle doodgeskok. ’n Regsaak is oor die voorval aan die gang.

Die 23 koeie wat Dreyer verloor het weens 'n kragdraad wat gebreek het. Foto: Mnr. Rufus Dreyer

Verlede November het hy 56 dragtige verse weens inkbessievergiftiging verloor.

Dreyer was in 2011 deel van ’n viermanskap wat van Kaap Agulhas na Kaïro gereis het om R250 000 vir Adelaide se plaaslike hospitaal in te samel.