Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), sê soms is die verdagte die bestuurder van ’n vragmotor wat op pad na die silo waar die vrag gelewer moet word, by ’n ander silo aanry en ’n deel van die vrag teen ’n laer prys by dié silo aanbied. Boere wat vervoerkontrakteurs gebruik, word aangemoedig om die dokumentasie van alle vragmotorbestuurders na te gaan en te bevestig.

Verder word boere aangemoedig om nie volgelaaide vragmotors, stropers of ander werktuie wat nog gestroopte mielies in het, oornag op landerye te los nie, aangesien hulle gereeld leeggesteel word. Buys moedig boere ook aan om indien moontlik hul vragte te weeg sodat hulle kan weet as ’n kleiner vrag by die silo afgelaai word as wat die plaas verlaat het.

Groenmieliediefstal

Intussen het die diefstal van groenmielies op plase naby dorpe die afgelope tyd in talle distrikte kop uitgesteek.

“Ons het al gevind dat mielies op plase tot 25 km buite die dorp gesteel word,” sê mnr. Ben Greyling, veiligheidsverteenwoordiger van die distrikslandbou-unie Warden. In die meeste gevalle gaan voetgangers met rugsakke in landerye in en pluk groenmielies wat hulle huis toe neem of verkoop. In ander gevalle, veral snags, gaan verdagtes met groot sakke in landerye in en pluk die sakke vol. Die sakke word dan by spesifieke laaipunte opgelaai, van waar dit na afsetpunte vervoer word.

“Die mielies is nou gelukkig besig om droog te word. Die diefstal van groenmielies het daarom begin afneem,” sê Greyling. Enkele verdagtes is die afgelope jaar vervolg nadat hulle op heter daad betrap is.

Kapmes in land

Mnr. Conray Bothma, veiligheidsverteenwoordiger vir die distrikslandbou-unie Bothaville, sê hulle het al talle verdagtes gevang wat helder oordag in landerye inbeweeg en mielies pluk.

Hy sê nie net beteken dié diefstal skade en ’n verlies aan inkomste vir die boer nie, maar dit hou ook veiligheidsgevare in. Op een plaas, sowat 10 km buite die dorp, is ’n kapmes in die landerye gevind.

“In nog voorval het ’n verdagte op ’n boer afgestorm met ’n selfgemaakte wapen toe die boer hom betrap,” vertel Bothma. “Ons moet optree en dié verdagtes laat vervolg anders sal die situasie net vererger en ’n veiligheidsrisiko inhou.”

Greyling en Bothma sê hulle vermoed die situasie word vererger weens toenemende armoede op die platteland.

Buys sê dié diefstalle het sedert verlede maand begin toeneem. Die dorpe waar dit aangemeld is, sluit in Allanridge, Bethlehem, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Hobhouse, Ficksburg, Odendaalsrus, Virginia, Fouriesburg en Warden.

Veiligheidswagte

Buys sê volgens ’n opname wat boere van Allanridge en Odendaalsrus onder hulself gedoen het, kan dié situasie vir ’n boer ’n bykomende koste van tot R80 000 per seisoen tot gevolg hê omdat private veiligheidwagte in diens geneem moet word om landerye op te pas.

“Nie net een wag kan in diens geneem word nie, omdat die landerye dag en nag bewaak moet word. Verder moet die boer in baie gevalle ook die wagte se verblyf en vervoer verskaf, wat nog bykomende koste te weeg bring,” sê Buys.

Buys sê verskeie boere het elektriese heinings rondom hul landerye opgerig, wat groot bykomende uitgawes tot gevolg gehad het.

Dreigemente

Naby myne word landerye deur zama zamas (onwettige myners) geplunder. Dit het al gelei daartoe dat veiligheidswagte aangeval en beroof is van onder meer selfone, klere, flitse en radio’s.

Verdagtes wat plase teen die Suid-Afrikaanse grens met Lesotho besteel, het al aangedui dat hulle veiligheidswagte en boere leed sal aandoen of plase sal afbrand.

Buys sê meer patrollies deur die polisie en veiligheidstrukture vind plaas in sommige gebiede. Boere word gevra om paraat te wees vir dié diefstal.

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê diefstal van plase vind landwyd plaas. Hy sê dit is belangrik dat veiligheidstrukture en boereverenigings druk op die plaaslike munisipale owerhede uitoefen om onwettige smouse in dorpe vas te vat sodat die mark wat vir sulke gesteelde goedere geskep word, gesmoor kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.