Dit beteken dat die klimaatsvooruitsigte vir landbouproduksie oor die volgende 30 jaar minder rooskleurig kan wees teenoor die voorafgaande drie dekades.

“Wees gereed vir onsekerheid oor die toekomstige reënval, maar veral die voorkoms van hitte is ’n werklike risiko vir almal,” is die boodskap van dr. Christien Engelbrecht van die Landbounavorsingsraad.

Sy het op die 51ste kongres van die Suid-Afrikaanse Dierkundigevereniging in Bloemfontein dié verwagte somber prentjie geskilder as die hoë vlakke van koolstofdioksiedproduksie weens die wêreld se olie- en steenkoolverbruik voortduur. “Metaangas is byvoorbeeld ’n baie nadelige kweekhuisgas, maar danksy die beperkte volume daarvan is dit nie die grootste sondaar nie.”

Volgens Engelbrecht is die verwagte inkrimping van die tradisionele produksiegebied van droëlandgewasse soos mielies, sojabone, sonneblomme, sorghum en koring in Suid-Afrika een van die gevolge van aardverwarming. Die graanproduksiepatrone verskuif van wes na oos met die eens winsgewende westelike dele wat meer marginaal raak.

Temperatuurstyging

“Die verwagte temperatuurstyging teen die middel van die eeu is reeds 3 °C tot 4 °C hoër as normaal, met die verwagting dat dit teen die einde van die eeu tot 6 °C hoër as normaal kan wees,” het sy gesê. “Die enigste oplossing is die verbouing van kultivars wat weerstand teen hitte kan bied.”

Suider-Afrika het in die somer van 2015-’16 rekordhoë temperature ondervind, veral in dele van die Vrystaat, Noordwes en die oostelike dele van die Noord-Kaap. “Na my mening is dit ’n voorsmakie van die tipe somers wat ons in die toekoms kan verwag. Nou word 2015-’16 nog as ’n uitskieter-hittegolftyd bestempel, maar in die warmer toekomstige klimaat sal dit normaal wees.”

Nog voorspooksels wat weerkundiges oor die toekomstige weerpatrone oor die vasteland van Afrika maak, is ’n drastiese toename in die getal dae per jaar wat hoë brandgevaar inhou, baie warm dae en dae wat deur hittegolwe geteister sal word. “Droër toestande sal oor die algemeen in Suider-Afrika voorkom, wat van 2036 tot 2065 El Niño-agtige droogtes tot gevolg kan hê wat oor meer as een jaar strek,” het sy gesê.

LNR, Christien Engelbrecht,
Dr. Christien Engelbrecht van die Landbounavorsingsraad. Foto: Johan Norval

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.