Mnr. Marco Meyer, ’n jong boer van Middelburg, Mpumalanga, wat ook landbou-ekonomie studeer het en nou besig is met ’n internskap oor graanverhandeling, is vanjaar se wenner in die verhandelingsmaatskappy, BVG, se jaarlikse verskansingskompetisie.

Die kompetisie is vanjaar vir die derde keer aangebied en is daarop gemik om veral boere, maar ook ander belangstellendes, meer vertroud te maak met die gebruik van afgeleide instrumente op die JSE. Dit word in samewerking met BKB GrainCo, Landbou.com, die JSE en Suidwes Graan aangebied. R45 000 se prysgeld is op die spel. Die wenners is by ’n gala-geleentheid in Pretoria aangekondig en Meyer het met die eerste prys van R20 000 weggestap.

“Aan die begin was ek kwaai in die rooi en wou net tou opgooi. Ek het egter nuwe planne gemaak want ek het geweet pryse gaan daal en skielik het dit beter begin gaan. 'n Mens moet besef daar is risiko, maar hoe meer daarvan, hoe meer wins. Daar is egter ook altyd ’n mate van geluk betrokke.”

Doen jou navorsing

Deelnemers moes die verskansing van 4 000 ton fiktiewe wit mielies vir lewering in Julie 2016 van ’n boer in die Coligny-gebied doen. Die uitgawes van die boer was vasgestel op R8,5 miljoen en ’n vervoerdifferensiaal van R270/ton het gegeld. Die kontrakte was vir lewering in Julie 2017. Deelnemers moes met verskillende verskansingstrategieë probeer om die hoogste moontlike wins vir die boerdery te maak, sonder ooglopende spekulasie.

Mnr. Tiaan Buys, deeltydse boer en rekenmeester van Nelspruit wat die tweede prys van R15 000 verower het, sê hy het baie vroeg sy pryse begin vasmaak. “Ek het net gedink ’n rand in die sak is beter as twee wat net moontlik daarbuite rondsweef. Dit is moeilik om vir iemand raad te gee want pryse is baie wisselvallig. As ek dit weer moet oordoen sou ek 60% tot 70% vasmaak indien ek daarmee basiese uitgawes kan dek en dan ’n mate van vloeibaarheid behou.”

Hy sê mens moet egter jou navorsing ook doen en nie net blindelings inspring nie. Die tien finaliste vanjaar was mnre. Marco Meyer, Tiaan Buys, Niel Swart (derde), Tadiswanashe Muchaka, Conrad Barnard, Thinus Helberg, Francois Nel, Stefanus Anderson en Piet Janse van Rensburg en me. Adri Wolhuter.