Die kort video van 'n boereplan wat die hommeltuig-kompetsie gewen het, is bekend gemaak.

Die wenner is mnr. HP Gräbe van die plaas Dassiespoort, Fauresmith. Sy wen-video is 'n boere-oplossing vir probleme met windpomppype. (Sien sy wen-video hieronder.)

Gräbe se patent bied 'n oplossing vir swaar ysterpype, met baie slytasie, wat jy in 'n windpomp gebruik. Hy gebruik plastiekpyp van 60 mm en 32 mm, met 'n staalstang binne-in. Die pype wat hy gebruik, is klas 20. Dit is die wand-dikte van die pype.

Vir boorgate

Sy boereplan is veral nuttig vir dieper boorgate, waar 'n mens nie plastiekstange kan gebruik nie omdat dit uitrek.

Gräbe is 'n veeboer op die familieplaas Dassiespoort. Hy boer met beeste, Dorpers en Boerbokke. Hy sê die plaas van sowat 2 000 ha bestaan uit heelwat ranteveld en rivierweiding. Uit die aard van die topografie op die plaas raak vee soms soek. Hy meen die hommeltuig kan 'n nuttige hulpmiddel wees om in dié soektogte te help.

HAEVIC, die bekende hommeltuigvervaardiger, het dié prys van die kompetisie geborg. Dis ‘n DJI Phantom 4-hommeltuig wat reeds legendariese status bereik het vanweë sy stewige bougehalte, 20 minute vliegtyd, 2,5 km-reikafstand, objekvermydingstegnologie en glashelder kamera- en videobeelde.

Dag lange opleiding

Dr. Gerhard Coetzee van HAEVIC reël die oorhandiging van die prys, asook die dag lange opleiding vir Gräbe, wat deel is van die prys.

* Altesaam 81 video-inskrywings is vir die kompetisie ontvang. Baie dankie aan almal wat ingeskryf het. Ons sal van die video’s mettertyd op Landbou.com vertoon.

https://youtu.be/6Bu0hvGsOUo