Toe tref dit haar: Sit die rangskikking in die wêreld se grootste blompot.

Sy het ook verlede jaar ’n rangskikking geskep vir Nampo Kaap, wat vanjaar tot op Vrydag 6 September op Bredasdorp aangebied word.

“Die blomme het nie regtig deel gevorm van die landbouskou nie. Die organiseerders het net gedink dit sal oulik wees om die blomme ook hier te hê omdat daar so baie blomkwekers in die gebied is. Uiteindelik het dit meer aandag op sosiale media getrek as die meeste ander dinge.”

Sy is teruggenooi en het ’n groter ruimte gekry om met rangskikkings te vul. Sy het verlede jaar ’n reuse-kandelaar uit 300 koningskandelaarblomme gemaak en het besef sy sal weer iets besonders moet maak.

“Toe ek verlede jaar vir twee maande by my kind in Jersey gaan kuier het, het ek die idee gekry om die rangskikking in die wêreld se grootste blompot te sit.”

Sy het toe navorsing gaan doen om te kyk hoe groot die grootste blompotte ter wêreld tot dusver was en begin beplan aan haar massiewe blompot, wat 6 m hoog is. Die rangskikking se naam is Pot et fleur with a twist, ’n verwysing na die feit dat die blomme in hierdie rangskikking binne-in die pot pleks van bo-op is. Mnr. Dirk Giliomee het haar gehelp om die struktuur van die pot te maak.

Die pot is geweef van dekriet, ’n plant wat algemeen in die omgewing is, met twee opening weerskante daarvan sodat die blomme in al hul prag aanskou kan word. Sy het ook gedroogte suikerkanne op die pot aangebring om ’n geborduurde effek te skep.

In skerp teenstelling met dié reuse-blommepot is die ikebana-uitstalling wat sy spesifiek by die blomme-uitstalling ingesluit het om te wys hoe baie ’n mens met ’n klein hoeveelheid blomme en plante kan vermag. “Ek wou vir mense wys dat jy met min ook iets mooi kan doen. Sommige mense voel geïntimideer as hulle iets met ’n klomp blomme moet doen, maar hier kan hulle sien dat ’n mens met min blomme ook iets kan doen.”

Me. Marjolijn Malan. Foto: Michelle van der Spuy

Die keramiekbakke is spesiaal vir die ikebana-rangskikkings gemaak deur mnr. Martin Swart, ’n plaaslike pottebakker.

Nie net die plaaslike blommekwekers word by dié uitstalling vereer nie, maar ook die plaaslike wolbedryf. Me. Soma Viljoen het ’n rangskikking geskep wat die wolmerk en wol uit die omgewing insluit.

Nog ’n interessantheid by die blommerangskikking is The Horny Corner, waar bokskedels met die blomme en plante in die rangskikkings verweef is.

“Ek het die idee hiervoor gekry terwyl ek aan ’n kalender vir die Suid-Afrikaanse Flora-unie getiteld ‘Bokdrome’ gewerk het. Ek het horings vir die toprangskikkers in die Wes-Kaap gegee en gesê hulle moet iets daarmee skep.”

Die publiek kan self besluit watter rangskikking die beste is. “Dit moedig die mense aan om te kom kyk. Die persoon wie se rangskikking as die beste bekroon word, wen ’n slagskaap aangesien ons op ’n landbouskou is.”

Waens is ook deel van sommige rangskikkings, soos die Canola Emoji-rangskikking, om nie net erkenning te gee aan die rol wat hulle in die geskiedenis van die landbou gespeel het nie, maar ook om mans na die uitstalling te lok. “Hul vroue kry hulle nie sommer by ’n blommeskou nie. Verlede jaar was daar omtrent meer mans as vroue by die uitstalling en hulle het nie geweet blomme kan só lyk nie.”

Sy sê mense uit die noorde van die land het al vir haar gesê hulle het nie geweet fynbos kan so mooi lyk nie. “Want hoe verkoop winkels fynbos gewoonlik? In vervelige bossies en as jy dit oopmaak is die blomme se blare nie eers skoongemaak nie. Mense het ’n wanpersepsie van ons blomme.”

Sy doen al van haar kinderdae af blommerangskikkings en is lid van die Suid-Afrikaans Flora-unie en die Internasionale Blommerangskikkersvereniging wat elke jaar in ’n ander land ’n kompetisie aanbied. Danksy haar lidmaatskap aan dié organisasie kon sy al aan uitstallings in onder meer Kanada, Uruguay en Italië deelneem.

Sy vertel die Suid-Afrikaanse rangskikkings presteer baie goed in die internasionale kompetisies. “Ons rangskikkers is baie op hoogte van nuwe neigings. Ons gebruik nie meer net driehoeke nie.”

Sy probeer om haar liefde en passie vir blommerangskikkings aan soveel mense moontlik oor te dra en kweek nou ook dié liefde by haar vyfjarige kleindogter, wat al van een jaar oud af saam met haar en die blommerangskikkings reis.

“Sy demonstreer ook saam. Ek dink ek word deesdae na demonstrasies genooi omdat mense weet dat sy gaan by wees!”

Me. Marjolijn Malan by haar reuse-blommepot. Foto: Michelle van der Spuy

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.