Mnr. Morné du Plessis, uitvoerende hoof van die wêreldnatuurlewefonds (WWF) van Suid-Afrika, glo kosproduksie speel ’n groot rol in die oorsaak en oplossing van die aftakeling van natuurlike hulpbronne.

“Die 2020 Living Planet-verslag van die WWF illustreer die onvermydelike skakel tussen die gesondheid en welvaart van die mens, en dié van die natuur. ’n Sleutelfaktor wat deur die verslag uitgelig is, is die rol wat die voedselproduksiestelsel speel in die verlies aan habitat en aftakeling van die natuurlike omgewing wat die bogenoemde neigings van verlies aan biodiversiteit aandryf.” Deur die navorsing vir die verslag het dit bekend geraak dat gemiddeld 68% van soogdiere, voëls, amfibieë, reptiele en visse oor die afgelope 46 jaar uitgesterf het.

Die WWF het saam met 40 ander nie-regeringsorganisasies onlangs ’n navorsingsdokument bekend gestel genaamd “Bending the curve of terrestrial biodiversity needs an integrated strategy”. Die model is deur van die wêreld se voorste omgewingsbewaring- en produksiekundiges saamgestel en Du Plessis beskou dit as baanbrekerswerk. “Dit bewys dat dit moontlik is om die vernietigende neigings te stabiliseer en selfs om te keer. Deur fundamentele veranderinge te maak aan die wyse waarop ons leef, ingesluit die vermindering van voedselafval deur gesonder diëte na te streef, kan ons die vlak van biodiversiteit weer opbou.”

75% van voedseldiversiteit verlore

Buiten ’n verandering in dieet voer die model ook aan dat voedselproduksie en -handel doeltreffender gemaak, dat afval verminder en groter biodiversiteit nagejaag moet word. Die verslag lig uit dat 99% van die wêreld se piesanguitvoer uit die kultivar Cavendish bestaan en dat dit die bedryf en al sy afhanklikes aan enorme risiko blootstel. Noudat hierdie kultivar kwesbaar vir die Panama-siekte is, is die bedryf in baie groter moeilikheid as wat dit sou wees as daar ’n diverse aantal kultivars was om van te kies. Om die risiko te verklein, word dikwels eerder gesoek na chemikalieë om die siekte te bestry as wat biodiversiteit gebruik word om die risiko kleiner te maak.

Die voortbestaan van bykans 60 verskillende koffiekultivars – onder meer van die gewilde spesie Coffea arabica – word ook bedreig, grootliks weens habitatverlies. Luidens die verslag het meer as 75% van die voedseldiversiteit oor die afgelope 20 jaar verlore gegaan. Wanneer die groter diversiteit in produksie najaag tesame met die ander bogenoemde strategieë, glo die WWF dat die welvaart en gesondheid van mens en natuur volhoubaar uitgebou sal kan word.

Die Living Planet-verslag is ’n tweejaarlikse verslag van die WWF. Dit lewer verslag oor die lewende-planeet-indeks (LPI), ’n indeks wat die neigings en bevolkingsgroottes van natuurlewe volg. Die LPI volg sedert 1970 meer as 21 000 bevolkings van meer as 4 000 spesies. Die grootste verlies aan bevolkings in hierdie tydperk is dié van varswatervisse wat in minder as 50 jaar bykans 85% van hul bevolkings verloor het.