Me. Rain Newton-Smith, hoofekonoom van die konfederasie van Britse nywerhede (CBI), het in ’n webinaar deur Alchemy by Deloitte, wat senior sakeleiers oplei, haar kommer gelug dat inenting nie globaal gekoördineer word nie.

Ook ’n Chinese ekonoom, dr. Fan Gang, uitvoerende direkteur van China se nasionale ekonomiese navorsingsinstelling en ’n senior genoot aan die Mastercard-sentrum vir inklusiewe groei, sê globale inenting is belangrik. “Selfs al het China die pandemie (in sy eie land) onder beheer, maar die wêreld bly ly, gaan baie dinge abnormaal bly.”

Die Chinese ekonomie is tans ’n uitsondering rakende ekonomiese groei. Dit het in die laaste kwartaal van verlede jaar met 6% gegroei en groei van 8% word vir vanjaar verwag.

Fan skryf dit daaraan toe dat die land reeds in April verlede jaar die pandemie onder beheer kon kry. Die bevolking se getroue dra van maskers, reg vanuit die staanspoor, het volgens hom bygedra. “Dit is ’n kulturele kwessie. Dit gaan nie net oor die regering nie. Mense werk saam.”

China beleef wel nou stygings in besmettings, maar dit is kleiner getalle en die land weet nou uit ervaring om vinnig op te tree met opsporing en toetsing.

Dr. Ira Kalish, globale hoofekonoom van Deloitte Touche Tohmatsu, het uit Amerika gesê hy is versigtig optimisties dat die ekonomie einde vanjaar weer op koers kan wees wanneer kudde-immuniteit bereik word.

Daar sal egter steeds groot ontwrigtings wees en sekere werkgeleenthede sal vir altyd verlore wees. Een van die kwessies is die heropleiding van werkers.

Amerika en China

Met pres. Joe Biden wat nou in Amerika aan die stuur is, het Fan gesê China verwag nie groot veranderinge in die twee lande se verhouding nie, maar dat dit meer voorspelbaar en rasioneel sal word.

Die groot bedrae geld wat die Amerikaanse regering in sy ekonomie inspuit, en die land se skuld, kan volgens hom ’n uitwerking op globale finansiële markte en bedrywe hê.

Kalish verwag dat Biden hom eers op die koronavirus gaan toespits en later sal aandag gee aan die invoertariewe wat oudpres. Donald Trump op Chinese goedere ingestel het, hoewel Biden na verwagting nie eensydig sal optree nie.

Afrika eenkant?

Dr. Martyn Davies, besturende direkteur van opkomende markte by Deloitte Afrika asook dekaan van Alchemy by Deloitte, is baie bekommerd dat swak inentingsveldtogte in die Suidelike Halfrond dié deel van die wêreld ekonomies gaan marginaliseer.

Inenting kan hiér nog drie jaar duur en lande waar die bevolkings nie ingeënt is nie, kan ’n derde en selfs ’n vierde vlaag beleef.

Davies sê boonop het demokrasie en aanspreeklikheid in die pandemie in verskeie lande versleg.

Hy is wel optimisties dat kommoditeite, soos olie, se pryse vanjaar kan styg, wat goeie nuus is vir lande in Wes-Afrika.

Ook die Afrika-vryhandelsooreenkoms (AfCFTA) hou belofte in, hoewel hy dit as “die mees ambisieuse vryhandelsprojek sedert die (vorming van die) Wêreldhandelsorganisasie” bestempel.

Dr. Hippolyte Fofack, hoofekonoom en direkteur van navorsing en internasionale samewerking by Afreximbank, wat Afrika-handel finansier, het gesê die AfCFTA kan ’n aandrywer van groei wees en Afrikalande ook help om die struktuur van hul ekonomieë te verander om minder van kommoditeite afhanklik te wees.

“Wanneer die ooreenkoms in werking gestel word, behoort ons te sien dat die vasteland meer in die globale arena geïntegreer word, wat inklusiewe globalisering sal verseker.”