Kort ná die aanbreek van die nuwe jaar is verskeie wynplase in die uiters droë Boland deur verwoestende brande bedreig. In sommige gevalle is voortreflike wingerde en historiese geboue in puin gelê. Honderde hektare fynbos en veld is ook vernietig.

Spogplase soos Vergelegen, Lourensford en Morgenster naby Somerset-Wes het skade gely. Die Paarlse plaas Druk My Niet het bykans tot op die grond afgebrand en minstens agt strukture, waaronder die hoofhuis, gasteverblyf, wynkelder en driehonderd jaar oue akkerbome, is in die puin gelê. Plase in Wellington is ook geraak.

“ ’n Mens kry hoendervel. Dis onwerklik. Jy kan dit nie eintlik inneem nie, want dit gebeur so vinnig,” sê me. Alexandra McFarlane, Druk My Niet se wynmaker. “Ons is nog besig om die roet uit ons oë te vee, maar die plaas is vernietig.” (Sien fotogalery hieronder. Foto's: Lucille Botha)

Daar is sowat 10 ha wingerd op Druk My Niet wat erge brand-, hitte- en rookskade opgedoen het.

Dankbaar daar is nie méér skade

Volgens mnr. Don Tooth, besturende direkteur van Vergelegen, het hulle sowat 40% skade aan die hele plaas, maar hy meen steeds hulle het redelik lig daarvan afgekom. “Dit kon baie erger gewees het. Ons het 140 ha wingerd, waarvan sowat 10 ha beskadig is. Die skade kom kol-kol voor, soos windbreuke en die kante van blokke gebrand het.”

Volgens Tooth begin Vergelegen eers middel Februarie pars. “Dis dus hoogs onwaarskynlik dat ons probleme met rookgeure gaan hê, want die korrels is nog baie klein, maar ons doen alle moontlike stappe om rookgeure te voorkom en sal die wingerd en wyn gereeld ondersoek.”

Volgens me. Lauren Howard, Werk met Vuur se woordvoerder, word die situasie vererger deur die droë toestande. “Nie net versprei die vure vinniger nie, maar die tekort aan water om die brande te blus is ’n groot probleem. Op die oomblik word dit nog goed hanteer.”

Rookskade

Buiten brandgevaar kan wyn ook ’n onaangename geur ontwikkel as die druiwe rookskade opdoen.

’n Brand op ’n plaas of naby ’n wingerd is egter nie noodwendig ’n doodsvonnis nie, sê me. Karien O’Kennedy, koördineerder van tegnologie-oordrag vir wynkunde by die Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe (IWWW) aan die Universiteit Stellenbosch.

“Boere moenie dadelik paniekerig raak nie. Dit hang af in watter fase van die wingerd se ontwikkeling daar rookblootstelling was. Hoe ryper die druiwe, hoe groter is die potensiële rookskade, want die skade kom gewoonlik voor in die laaste maand voor pars.”