Mnr. Andries Theron, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), sê Agenbag was ’n fantastiese mens, ’n mentor en ’n goeie vriend. Hy het hom geloof vir sy nederigheid en kalmte. “Hy sou nooit sy prestasies aan die groot klok hang nie. Sy rustige geaardheid het dikwels gehelp dat ons deurdagte onderhandelinge voer.”

Theron sê Agenbag se dood is ’n groot verlies vir die proteïensaadbedryf. “Hy het soveel waarde tot die kanolabedryf toegevoeg en mense opgelei. Dit was ’n groot voorreg om saam met hom te werk. Wat lupiene betref, was hy een van die laastes van die ou skool wat lupiene goed geken en verstaan het.”

Agenbag is in 1950 op Kakamas gebore en het daar grootgeword. Hy het na skool landbou aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer en toe as navorser by die afdeling winterreënstreek van die destydse Departement van Landbou gewerk. Hy het in 1987 ’n doktorsgraad in akkerbou aan die US verwerf, waarna hy as dosent aangestel is. Hy was van 1994 tot 2009 hoof van die departement agronomie aan dié universiteit. In dié tyd het hy as studieleier vir 12 doktorale studente en 33 M.Sc.-studente opgetree. Ná sy aftrede in 2015 was hy as ’n besoekende professor by die departement betrokke en hoofkonsultant oor kanola by die PNS.

Die huldeblyk van die departement agronomie loof Agenbag vir sy pionierswerk op bewaringsboerdery, terwyl die bedryf hom loof vir die navorsing wat hy oor stikstof- en swawelbemesting by koring en kanola gedoen het. Hy het 60 wetenskaplike en meer as 90 populêre artikels geskryf.

Agenbag het verlede Maart in seker een van sy laaste praatjies boere gemaan om die basiese dinge reg te doen en risiko in elke groeistadium van koring en kanola te probeer uitskakel.

Agenbag is in 2011 aangewys as Graan SA se Wetenskaplike van die Jaar en het ’n prestigetoekenning van die PNS ontvang. Die Wes-Kaapse tak van Landbouskrywers SA het hom in 2012 as Landbouwetenskaplike van die Jaar aangewys, terwyl hy in 2015 ’n goue medalje van die Suid-Afrikaanse Gewasproduksievereniging ontvang het.

Hy laat sy vrou, Susan, en drie dogters, Lize, Lené en Annaré, agter. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.