Die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel het vanjaar goed herstel met damvlakke wat, volgens die departement, op ’n jaargrondslag van 34,74% tot 69,68% toegeneem het. 

Mnr. Rhasid Khan, Wes-Kaapse bestuurder van die departement, sê die beskikbaarheid van water is tans baie beter as wat dit weens die droogte ’n jaar of twee gelede was. Damvlakke in die provinsie staan tans op 59,6%, vergeleke met 33,5% verlede jaar. 

Die Regering het besluit om waterbeperkings te verslap sodat slegs 10% minder water aan huishoudings en die landbou beskikbaar gestel word vergeleke met die verbruik in 2015. Die waterbeperkings het voorheen bepaal dat waterverbruik in huishoudings met 45% verminder moes word, terwyl die landbou se beperking 60% was. 

Khan sê die besluit om waterbeperkings te verslap is gegrond op hidrologiese data wat onlangs deur die departement bygewerk is. Dit dui aan ’n verslapping in die waterbeperkings sal balans in die watervoorsieningstelsel bewerkstellig en watersekerheid vir stedelike en landelike verbruikers bied.

Khan sê egter die departement moedig verbruikers aan om alternatiewe waterbronne te gebruik ten einde die huidige watervoorraad te rek. “Die departement monitor die situasie saam met ander waterspesialiste, kommunikeer met verbruikers deur droogteforums en doen die gepaste stappe om die ononderbroke voorsiening van water te verseker.”

Nie alle damme het herstel

Mnr. Cornie Swart, voorsitter van Agri Wes-Kaap, sê die department se waterbeperkings sal deur elke besproeiingsraad en munisipaliteit oorweeg word in terme van die spesifieke gebied se watervoorraad. Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en omgewingsake, sê damme in die opvangsgebied van die Gouritzrivier is slegs 19,01% vol.

Volgens die webtuiste van die Breede-Gouritz-opvangsgebiedbestuursagentskap is die Leeu Gamka-, Gamka-, Oukloof- en Gamkapoortdam leeg. Die Miertjieskraaldam is die week slegs 2% vol, terwyl die Kammanassie- en Floriskraaldam elk op 4% staan en die Calitzdorpdam 9% vol is.

Die munisipaliteit van Beaufort-Wes het op 1 September 2018 ’n kennisgewing van strenger waterbeperkings in dié distrik uitgereik. Daarvolgens is die toegelate verbruik van water per huishouding 10 kiloliter per maand. Die munisipaliteit dui aan dat stappe gedoen sal word teen ’n huishouding wat meer as 15 kiloliter water per maand gebruik.

Stad Kaapstad

Bredell sê hulle het kennis geneem dat die Stad Kaapstad besluit het om sy waterbeperkings tot vlak 3 te verslap, aangesien dié gebied se damme voller is as damme elders in die provinsie. “Aan die begin van Oktober het die waterbeperkings nog op ’n rekordvlak 6B gestaan. Ons verstaan dat die munisipaliteit se gedagte was om aan inwoners terug te gee aangesien water nou aansienlik goedkoper gaan wees.

“Ons wil inwoners aanmoedig om nie die laer waterbeperkings in te span om meer water te verbruik nie. Die bonus is dat inwoners selfs meer geld kan bespaar deur so min as moontlik water te gebruik,” sê Bredell.

Statistieke oor die Wes-Kaap se vernaamste damme vir die week van 3 Desember:

Theewaterskloofdam: 54% vol (Verlede week: 55%; Verlede jaar: 22%)

Voëlvleidam: 89,6% vol (Verlede week: 91,5%; Verlede jaar: 26%)

Bergrivierdam: 95% vol (Verlede week: 96%; Verlede jaar: 64%)

Clanwilliamdam: 85% vol (Verlede week: 98%; Verlede jaar: 88%)

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.