Die geleentheid by Nederburg buite die Paarl, aangebied deur die Wes-Kaapse regering met Shoprite as hoofborg, is die enigste van sy soort in die land.

Hy werk al sowat twee en ’n half jaar op die plaas, en het homself van ’n intern na opsiener en tegniese bestuurder opgewerk. Dié boorling van Motherwell, Port Elizabeth, het ’n nasionale diploma in landboubestuur aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit behaal.

Ntoto word beskryf as ’n motiveerder, wat landbou en mense verstaan. “Ek is baie trots om deel van ’n goeie storie te wees. Daar is steeds hoop en geleenthede.”

In sy aanvaardingstoespraak het hy gesê alle deelnemers aan die kompetisie is nie bloot ’n syfer nie. “Ons is deel van die bedrading wat die land bymekaar hou. Mense in die landbou werk hard om die land te ontwikkel.”

Die blootstelling van die kompetisie is waardevol, meen hy. “Dit gee mens die geleentheid om met mense op ’n hoër vlak te skakel, kwessies aan te roer en met oplossings vorendag te kom.”

Ntoto is veral opgewonde oor een van sy pryse, ’n oorsese studietoer ter waarde van R80 000. “Ek gaan dit benut om terug te ploeg en jongmense te motiveer. Landbou is ideaal om geleenthede vir mense buite die hoofstroom te skep en hulle bloot te stel.”

Buiten die toer wen hy ook ’n tablet ter waarde van R10 000 en data van R1 000, ’n geskenkbewys van R20 000 van Shoprite en R25 000 van die Wes-Kaapse regering.

Sy droom is om eendag sy eie plaas te besit, beslis met aarbeie, appels en pere as vertakkings. “Ek gaan my vlerke sprei en werk skep. Landbou is immers een van die beste platforms om ongeskoolde werkers te bemagtig.”

Die kategoriewenners was;

Mnr. Petros Baliwe (algemeen: Bellevue, Breëriviervallei);

Mnr. Mziyanda Tandiwe (besproeiing: Suiderplaas Radyn, Olifantsrivier);

Mnr. Isak Buys (trekkerdrywer:  Mont Rochelle, Franschhoek);

Mnr. Tawfeeq Brinkhuis (diereproduksie:  Schaapkraal, Durbanville);

Mnr. Selton Johnson (tegniese operateur: Meerlust, Stellenbosch);

Mnr. Willem Booysen (landbouverwerking: Fruit Lips, Piket-bo-Berg);

Me. Ronitha Visagie (sosiale ontwikkeling: Lemoenpoort, Breëriviervallei);

Daar was drie wenners in die afdeling vir administratiewe personeel, naamlik mee. Odile Adams (Graham Beck-wyne, Langeberg), Jacqueline April (Haygrave Heaven, Overberg) en Karin November (Crispy Farming, Witzenberg). Nog wenners in die afdeling was mnr. Gabriël de Villiers (voorman: De Oude Opstal, Langeberg), mnr. Jan Maritz (junior bestuur: Bellevue, Breëriviervallei), mnr. Elvis Pieters (middelbestuur:  Graaff Fruit Rietfontein, Witzenberg) en me. Laurine Matsamburutsa (beste potensiaal: De Grendel, Durbanville).

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.