Dit volg nadat wegholveldbrande meer as 100 000 ha natuurlike weiding vernietig het en die landbougemeenskappe van veral die Wes-Vrystaat en dele van die Noord-Kaap en Noordwes op hul knieë gedwing het.

Mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou, sê sy kantoor is byna gereed om die opname oor die skade in die brandgebiede by die Vrystaatse departement van landbou in te dien. Die organisasie het sy opname in ooreenstemming met die departement se formaat opgestel.

’n Voorlopige bepaling van die ekonomiese waarde van die afgebrande weiding net in die Vrystaatse distrikte Hertzogville en Boshof word op sowat R122 miljoen geraam. Die opname van die brandskade in dié twee distrikte wat einde Oktober deur Vrystaat Landbou se plaaslike strukture vir voorlegging aan die departement gedoen is, toon dat altesaam 301 plase met ’n totale oppervlakte van 155 524 ha deur die brande geraak is. Daarvan is bykans die helfte (76 085 ha) heeltemal afgebrand. By Hertzogville het 34% (52 733 ha) van die distrik onder die brand deurgeloop, aan die oostekant van Boshof 19% (29 538 ha) en aan die westekant van Boshof 47% (73 252 ha).

Die VF Plus het die Vrystaatse rampverklaring verwelkom, maar versoek dat regeringshulp op provinsiale én nasionale vlak aan boere verleen word, aangesien die brande veroorsaak is deur brandstigting deur ontevrede inwoners van die plaaslike munisipaliteit Tokologo.

Die VF Plus en Wilken se optimisme is getemper omdat die ANC-regering volgens hulle reeds bewys het dat hy nie in die onmiddellike behoeftes van mense in rampgebiede kan voorsien nie. Vorige rampgebiede het eers jare ná verwoestende gebeurtenisse verligting ontvang.