“In die stadium is dinge nog redelik stil in ons wêreld met die stropers wat hoofsaaklik nog in die skure staan. Almal wag vir die mielies om af te droog,” sê dr. Werner Russouw, handelaar en direkteur van Silostrat.

Hy sê hy verwag dat Silostrat tot ongeveer 20 Julie gaan moet wag voordat hy droë mielies van sy kliënte in die sentrale en westelike dele van die Vrystaat gaan ontvang. Vogtoetse wat einde Junie en begin Julie gedoen is, het aangedui dat van mielies in dié dele se voginhoud 20% was, terwyl ander tot 25% was.

“Wanneer die boere aan die stroop kom, kan hulle die proses vinnig voltooi word,” sê Russouw.

Volgens Silostrat se data het die weeklikse lewering van geelmielies begin afneem, terwyl die lewering van witmielies begin styg het. “Dit dui daarop dat die oostelike dele van die land ver gevorder is met die stroopproses, terwyl die proses in dele in die westelike saaigebiede skaars begin is en/of nog glad nie begin is nie.”

mielielewering grafiek 2
Die grafiek dui die lewering per week tot aan die einde van Junie vir die 2018-’19-somerseisoen aan. Bron: Silostrat

Mnr. Naudé Pienaar, assistent-hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê baie boere in Noordwes is bly dat die eerste swaar ryp verlede week voorgekom het, aangesien dit sal help dat hul gewasse kan begin afdroog sodat hulle kan stroop.

Hy sê aangesien talle boere weens die laat somerreën baie later as gewoonlik moes plant, is hulle dankbaar dat die swaar ryp hul gesaaides die kans gegee het om hul groeiproses te voltooi. “Die laat ryp is beslis ’n groter voordeel as nadeel. Dit het onder meer baie boere se sonneblomaanplantings die kans gegee om deur te trek.” 

Lewering

Mnr. DJ van der Linde, ’n boer van die distrik Vierfontein in die Noordwes-Vrystaat, sê hulle sukkel om gesaaides te stroop. Hy stroop ook as kontrakteur vir ander boere in die omgewing. “Jy stroop vir ’n dag of twee op een plaas en dan beweeg jy oor na ’n ander een tot die gesaaides uitdroog en jy weer kan teruggaan.”

Op sommige plekke het ryp wat vroeër in die distrik voorgekom het, skade aan van die mielies en sonneblomme aangerig, maar volgens Van der Linde het groot skade nie voorgekom nie. “Ek dink wel baie ouens sal kort nadat hulle gestroop het hul lande kan begin bewerk vir die volgende seisoen. Die grond is nog klam op baie plekke,” aldus Van der Linde.

Russouw sê dis interessant dat vanjaar se lewering tot einde Junie hoër is as verlede jaar. In ’n grafiek wat mielielewerings in persentasie teenoor die oesskatting van die afgelope vyf seisoene vergelyk, het mielielewerings teen einde Junie die afgelope vyf jaar afgeneem. Verlede jaar was slegs 36% van mielies vergeleke met die oesskatting teen einde Junie gelewer, terwyl dié leweringspresentasie einde Junie vanjaar op 40 gestaan het.

Einde Junie in 2015, 2016 en 2017 was dié persentasies reeds hoër as 50. “Die lewerings van 2018 en 2019 is klaarblyklik stadiger as gevolg van die laat aanplantings in die sentrale en westelike gedeeltes van Suid-Afrika,” sê Russouw.

mielielewering grafiek 1
Die grafiek dui die lewering van mielies tot en met einde Junie vir die afgelope vyf seisoene aan, in vergelyking met die oesskatting van elke seisoen. Bron: Silostrat

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.