Die nasionale vergadering het die wysigingswetgewing verlede Desember goedgekeur, en dit verlang nou net die handtekening van pres. Cyril Ramaphosa om bekragtig te word.

Die wysigings is genoodsaak nadat die Grondwethof die Wet op die Opgradering van Grondbesit (Wet 112 van 1991) in 2018 ongeldig verklaar het omdat dit slegs mans as die hoofde van ’n familie erken en meebring dat grondbesitregte wat outomaties in eienaarskap omgeskakel word, dan slegs mans bevoordeel. Die wysigings wil onder meer sien dat verblyfreg in eienaarskap omgeskakel kan word, dat die belanghebbendes in kennis gestel moet word van ’n aansoek van omskakeling en dat mense die geleentheid gegun kan word om kapsie te maak teen so ’n omskakeling.

Die gekose komitee het die goedkeuring van ten minste vyf provinsies benodig om die wysigingswetgewing goed te keur. Die Wes-Kaap het teen die wysigingswetgewing gestem en Noordwes het versuim om ’n mandaat in te dien.

Komiteeverslag

Die komitee sê in sy finale verslag rakende die openbare verhore wat hy gehou het, dat slegs ’n klein persentasie insette op die hersiende klousules gelewer is. Die meeste insette wat ontvang is, het gekonsentreer op die sentiment rondom grondhervorming, die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en sy uitvoerende gesag.

Altesaam 55% van die kommentare het gekonsentreer op verblyfsekerheid, kommer oor ministeriële magte, kapasiteit van die departement en finansiering van die departement se mandaat. Slegs 6% van alle kommentare wat ingedien is, het werklike insette gehad oor die teks van die wysigingswetsontwerp.