Die wetsontwerp wat die beleidsvoorstel bevat wat grondplafonne daarstel en buitelanders se besit van landbougrond tot niet sal maak, wag vir vooraf goedkeuring van die kantoor van die staat se regsadviseur, het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, aangekondig toe hy die begrotingsrede van sy departement gelewer het.

Die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit (Regulations of Land Holdings Bill, 2014) wil sien dat die grondplafon vir ‘n kleinskaalse kommersiële plaas 1 000 hektaar is, vir ‘n mediumskaal kommersiële plaas 2 500 hektaar en ‘n grootskaalse kommersiële plaas 5 000 hektaar.

'n “Spesiale kategorie” met ’n plafon van 12 000 hektaar is gemik op die bosbou, wildsplase en hernubare energieplase, veral plase vir wind-energie. Die plan van die Regering is om oorskot grond tussen hierdie kategorieë te onteien en aan swart mense te herverdeel as deel van sy grondhervormingsprogram. (Lees ook: Wet vir grondplafonne stoom voort)

Buitelandse grondbesit

Die wetsontwerp spel ook uit hoe buitelandse besit van landbougrond voortaan sal lyk. Die voorstel is dat buitelanders, wanneer die wet van krag is, slegs landbougrond vir ’n minimum van 30 jaar kan huur. Die Regering het vroeër verduidelik dat hierdie minimum verhuringstydperk nie landbouproduksie in die land sal benadeel nie, want daardie boere kan steeds met ’n 30 jaar-huurkontrak ’n bankwaarborg kry.

Nkwinti het gesê die wetsontwerp het reeds die evaluering van sy maatskaplik-ekonomiese impak deurgegaan en dat dit gedurende Mei vanjaar vir die publiek vir kommentaar beskikbaar gemaak sal word.

Die wetsontwerp sal na verwagting in Junie vanjaar by die Parlement  vir oorweging ingedien word.

* Vroeer het lede van die African Farmers Association van SA (Afasa) teen die Regering se planne vir grondplafonne vasgeskop.