Sowat 1 500 vragmotorbestuurders het teen 7 Julie aan die staking deelgeneem uit protes teen die indiensneming van buitelandse vragmotorbestuurders.

Chadwick sê verskeie vragte sitrus kon weens die staking nie na hawens geneem word nie, wat tot vertragings by die reeds oorvol hawens sal lei. Die bestaande vertragings by Kaapstadhawe dwing sitrusprodusente reeds om hul vragte met vragmotors na ander hawens te neem. “Boonop het ’n massiewe koue front die naweek die Kaap getref. Dié koue front sal verdere vertragings veroorsaak soos dit langs die kus op beweeg.”

Chadwick sê die stakings is die nuutste in ’n lang lys struikelblokke wat die sitrusbedryf vanjaar moes oorkom. Weens die Covid-19-pandemie was daar ’n hoë risiko van personeelafwesigheid by elke skakel in die waardeketting. Die afgelope paar weke het verdere probleme, soos die dieseltekort, opgelewer.

Mnr. Mitchell Brooke, logistieke ontwikkelingsbestuurder van SKV, het verlede week aan Landbouweekblad gesê hulle oorweeg ’n aantal opsies om produsente te help om hul produkte by die hawe te kry.