Een van die tergendste vrae in die debat oor grondhervorming is hoe grondbesit onder verskillende rassegroepe met mekaar vergelyk. In 2014 het die Regering gesê sy grondoudit het bevind 26 miljoen hektaar (22%) behoort aan die staat en 96 miljoen hektaar (78%) is in private besit.

Aanvanklik, voor die 1994-verkiesing, was die veronderstelling dat 87% van Suid-Afrika se grond in wit hande was en net 13% in swart besit is, met ’n aanname dat die staat niks besit het nie. Die ANC het reeds in 2005 besluit dat ’n grondoudit dringend gedoen moet word. Dit is nie bekend presies wanneer die projek van stapel gestuur is en ook nie hoeveel dit gekos het nie.

Die eerste fase van die grondoudit het slegs gehandel oor die staatsgrond en is in 2014 voltooi.

LEES OOK: Práát oor onteiening sonder vergoeding

Private besit

Dit is egter met die tweede fase, oor grond in private besit, waar die oudit voor ’n ernstige struikelblok te staan gekom het: Aangesien die aktekantoor sedert 1994 nie die eienaar se ras aandui nie, kon hy nie verder die data oor die 78% van grond in private hande ontleed nie.

Dit laat die vraag ontstaan hoe die staat sy jongste syfers oor grond in private besit bereken het – wit mense (70%), swart mense (5%), bruin mense (15%), Indiërs (6%) en “ander” mense (4%).

Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het onlangs in ’n parlementêre antwoord aangedui dat die “tweede fase van die oudit voltooi is”. Die uitslae daarvan is tans by die Kabinet.

Benewens die probleem om die ras van eienaars te identifiseer, het Nkwinti aangedui daar is steeds probleme om ras-inligting ten opsigte van instellings soos trusts, private en openbare organisasies, maatskappye en deeltitelaktes, te bekom.