Dinsdag het stormsterk wind erge stofstorms in dele veroorsaak, terwyl ander dele reën gekry het en plekke vanoggend met sneeu bedek is.

sneeu
Sneeu op die plaas De Kom in die distrik Fraserburg. Foto: Piet Marais
stofstorm, sneeu
Die wind wat die sneeu na ander dele geneem het, het 'n stofstorm by onder meer Aggenys veroorsaak. Foto: Danie Jacobs
sneeu
Die einde van die sneeustorm by Rogge Cloof-landgoed. Foto: André Jordaan
sneeu,
'n Springbok skuil teen die wind op Rogge Cloof-landgoed by Sutherland. Foto: André Jordaan
sneeu,
Die sneeubedekte sprokiesland van Rogge Cloof-landgoed. Foto: André Jordaan
sneeu,
SOwat 3cm se sneeu het oor die Rogge Cloof-landgoed neergesak. Foto: André Jordaan
sneeu,
'n Sneeubedekte landskap by Aarfontein in die distrik Fraserburg. Foto: Esgee Botha

Mnr. André Jordaan, bestuurder van die Rogge Cloof-landgoed net buite Sutherland, sê hulle het reeds op enkele karkasse afgekom van wild wat weens die koue, nat en winderige toestande gevrek het. “Ons ry tans op die plaas rond om te sien of daar nog vrektes was.”

Sowat 3 cm sneeu het op dié plaas voorgekom. “Die temperatuur vanoggend om 10:00 was 0,5 °C en die wind waai teen sowat 30 km/h. Dit maak die aanvoelbare temperatuur aansienlik laer.” Jordaan sê hulle is dankbaar vir die vog wat die sneeu gebring het.

Me. Carin van der Merwe van die plaas Wolwedans in die distrik Sutherland sê 11 lammertjies het by hulle verkluim. Hulle is egter ontsettend dankbaar vir die 27 mm reën wat op die plaas geval het. 

Me. Thea Koen wat by die Suid-Afrikaanse Sterrekundige Observatorium by Sutherland werk, het hierdie video geneem terwyl die sneeu geval het. 

Reënval

Reënval wat by Agri Noord-Kaap aangemeld is, wissel van 8 mm tot 12 mm in die distrik Calvinia, van 10 mm tot 35 mm in die distrikte van Springbok en Garies, van 8 mm tot 15 mm in die distrik Williston, van 4 mm tot 10 mm in die distrik Fraserburg en van 8 mm tot 48 mm in die distrik Sutherland.

Me. Hester Obermeyer, Gift of the Givers se koördineerder vir veevoer in die Wes- en Oos-Kaap, sê Sutherland het sowat 20 mm reën gehad, terwyl sommige plase in die Tankwa-Karoo tot 36 mm gemeet het. Daar het 15 mm reën op Elandsberg geval en 10 mm op Fraserburg. Op Bastardskraal, ’n plaas naby die Rhenosterrivier, is 28 mm reën gemeet. Mnr. Nicky Paulsen van die plaas Oranjefontein in die Klein-Roggeveld sê 45 mm reën het op die plaas geval.

Die distrik Namakwa, die distrik ZF Mgcawu, wat die gebied rondom Olifantshoek insluit, en die distriksmunisipaliteit Pixley ka Seme, wat Britstown, Carnarvon, Colesberg, De Aar, Griekwastad, Hanover en Strydenburg insluit, is onlangs tot rampgebiede verklaar. 

Juigend

Goeie reën het oor dele van die Wes-Kaap voorgekom. Mnr. De Wet Viljoen, wynmaker van Neethlingshof by Stellenbosch, sê hulle is dankbaar vir die 65 mm wat sedert Dinsdag op die plaas uitgesak het: “Ons juig!”

Metings van tot 100 mm in die distrik Stellenbosch is op sosiale media aangemeld.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerkantoor se statistieke is 100 mm reën by Ceres gemeet, met 48 mm wat by Worcester aangemeld is. By Swellendam is 31 mm aangemeld, terwyl 38 mm by Langgewens en 34 mm by die Paarl gemeet is. Die metings wat oor die provinsie heen by die weerkantoor aangemeld is, wissel van 1 mm tot 100 mm. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.