Etlike weke voor sy 70ste verjaardag is ’n wildboer van Limpopo wat drie afsonderlike aanvalle van luiperds en ’n leeu oorleef het, oorlede nadat een van sy buffels hom met sy horings deurboor het.

Volgens Beeld is mnr. Bryan Smith (69) van die Kapiri-wildplaas in die Gravelotte-distrik Vrydagaand dood terwyl hy en werkers besig was om ’n trop buffels na ’n boma op die plaas te skuif.

Sy dogter, Shirley Elgin, het gesê haar pa was bo-op ’n hek toe een van sy rustigste buffels, Bruce, se horings deur sy een been gesteek het. Dit het hom van die hek laat tuimel en een van die dier se horings het sy hart deurboor. “Hy is onmiddellik dood.”

Sy geskokte werkers het dadelik hulp ontbied. Nooddienswerkers van ER24 is na die plaas, maar kon niks meer vir Smith doen nie.  Smith was nie net in wildkringe in Afrika bekend nie, maar hy was ook ’n nasionale skut. Hy het ook jare gelede in Zambië drie keer die kake van die dood vrygespring nadat hy in afsonderlike voorvalle deur twee luiperds en ’n leeu aangeval is. Hy was 23?jaar oud toe hy Luangwa Safaris in Zambië gekoop het. Hy en sy vrou, Iris, het in 1989 na Suid-Afrika gekom.

Volgens die koerant was Smith welbekend in jagkringe in Tanzanië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zambië en Zimbabwe. Hy sou op 30 Junie sy 70ste verjaardag gevier het.

Elgin het gesê die buffel sal vandeesweek van kant gemaak word. ’n Roudiens vir Smith word Saterdag 14:00 op die Kapiri-wildplaas gehou.

Bron: Beeld.