Dié 500MVA-megatransformator is in Suid-Afrika vervaardig en dra saam met die turbinetorings by tot Perdekraal-Oos se hoë persentasie van plaaslik vervaardigde onderdele.

Dit is in ooreenstemming met die regering se vereistes om toenemend die plaaslike inhoud van energieprojekte te verhoog.

Mnr. Glenn Hobson, die konstruksiebestuurder van die Perdekraal-Oos-windplaas, sê die kontrakteurs oorskry reeds die vereiste aan plaaslike inhoud van 48% van die totale projekwaarde.

Die transformator word net buite Ceres ingerig met die hoofdoel om die kraglewering van die windplaas tot 400 kV te verhoog. Dit sal na verwagting teen die einde van Julie vanjaar tot die nasionale kragnetwerk bydra.

Altesaam 50 werkdae het weens die inperkingstyd vir die konstruksie van die huidige 12 windplase in die land in die slag gebly.

Volgens Hobson werk sy span sedert die einde van Mei weer om die agterstand in te haal, met die beheermaatreëls wat daagliks weens Covid-19 in ag geneem moet word.