In die distrik Hertzogville berei talle boere hul landerye voor vir die aanplanting van koring omdat hulle nie mielies kon aanplant nie nadat dit eers laat in die somer gereën het. “Boere in talle dele van die Wes-Vrystaat beoog om koring aan te plant of het reeds koring aangeplant,” sê mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die goeie neerslae oor veral Paasnaweek het hoop gebring vir boere in distrikte soos Hoopstad en Bultfontein wat nie somergesaaides kon aanplant nie. “Ons verwag ’n styging in die aanplantings van koring in die winter, veral in dié gebiede waar boere jare laas genoeg vog gehad het om koring te kon aanplant.” De Villiers sê daar is nog baie ruimte vir lewering op die koringmark, veral omdat Graan SA se omdraaistrategie vir die koringbedryf resultate begin oplewer.

“Oral waar ek die afgelope week in die Vrystaat gery het, staan die water. ’n Mens voel sommer net anders,” sê Olivier.

Talle boere in die Oos-Vrystaat beoog ook om koring te plant, hoewel dié aanplantings in Mei, Junie of Julie gedoen word.

Swartland en Suid-Kaap

Intussen sê mnr. Andries Theron, ’n boer van die distrik Koringberg: “Ons plant dat die stof so staan in die Swartland.”

Hy sê hoewel hulle nie tans noemenswaardige grondvog het nie, is hulle hoopvol dat ’n goeie seisoen vir die Wes-Kaap voorlê. “Ons is dankbaar dat die seisoen wel beter begin as die vorige seisoene. Hoewel dit nog vroeg in die seisoen is, hoop en vertrou ons op ’n goeie seisoen.”

Theron sê dit is nie ongewoon dat talle boere in die Swartland plant terwyl die grond nog droog is nie. “Die afgelope tien jaar plant ek elke jaar sowat 90% van my koring in droë grond.”

Suid-Kaap

Kanola word ook in dele van die Swartland geplant, sê mnr. Toit Wessels, assistentbestuurder van Nampo en bemarking by Graan SA.

Volgens Wessels word kanola ook in die Rûens in die Suid-Kaap aangeplant, veral in die distrikte waar reën die afgelope paar weke voorgekom het. “Dié boere plant gewoonlik eers kanola, gars en dan koring.”

Boere verder oos, veral in die omgewing van Heidelberg, Mosselbaai en Joubertina, wag egter nog vir goeie reën om te kan plant.

Reën

Me. Mbavhi Maliage, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê sonnige weer word die volgende sewe dae in die grootste deel van die land verwag. Koue fronte wat van die weste af oor die land beweeg, kan môre ligte reën oor dele van die Wes-Kaap bring. “Ons sien nog nie die begin van die winterreënseisoen nie, maar ligte reën is wel moontlik.”

Donderdag en Vrydag word nog ligte reën oor dele van die Wes-Kaap verwag, met ’n 30%-kans op reën oor die kusgedeeltes van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.