“Al hoe meer mense val terug op mieliemeel as stapelvoedsel weens die rampspoedige ekonomiese omstandighede wat deur Covid-19 en die inperking veroorsaak is,” sê mnr. Anthony Clark, ontleder van Small Talk Daily. Hy sien dieselfde styging in verbruikspatrone as in 2008-‘09 tydens die hoogtepunt van die internasionale finansiële krisis, toe Suid-Afrika ook ’n resessie beleef het. “Verbruik het ook in 2017-’18 gestyg toe plaaslike ekonomiese faktore verbruikers se besteding negatief geraak het. Die styging in die verbruik van witmielies dui op ’n neiging dat dié basiese voedselsoort die bekostigbaarste in veral die informele mark in resessie-tye is,” verduidelik Clark.

Verder bestaan daar kommer oor die graadgehalte van vanjaar se witmielie-oes, weens die hoë voginhoud. Dit vertraag die lewering van die oes en ontleders is bekommerd dat dit plek-plek tot voorraadtekorte kan lei. 

Maar desondanks hierdie faktore behoort daar meer as genoeg witmielies van eerstegraadse gehalte (WM1) vir menslike verbruik te wees, sê dr. Werner Rossouw, direkteur van Silostrat. “Die grootte van die witmielie-oes vergoed vir die laer persentasie WM1-mielies wat gelewer word.”

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) beraam dat vanjaar se witmielie-oes sowat

9 106 miljoen ton sal beloop. In 2019 het die totale binnelandse witmielie-verbruik

4 809 miljoen ton beloop. (Sien die grafiek van Silostrat wat verbruik tussen 1998 en 2019 aantoon.)

silostrat grafiek
Bron: Silostrat

Volgens Rossouw se berekening was die witmielie-lewering vir Mei, Junie en Julie altesaam 5 299 miljoen ton waarvan 4 713 miljoen ton WM1 was. Hy bereken voorts dat daar tot einde Februarie 2021 nog 3 515 miljoen ton gelewer moet word. In die tabel hiernaas gee hy drie moontlike syfers, na gelang van hoe groot die persentasie WM1 is.

silostrat grafiek
Bron: Silostrat

Hiervolgens behoort die totale volume WM1 (teen die huidige oesskatting) tussen 6 470 en 7 173 miljoen ton te wees, wat meer as genoeg vir plaaslike behoefte is.

Rossouw sê in sekere geografiese gebiede kan die beskikbaarheid van WM1 egter uitdagend raak. “Dit is spesifiek die distrikte wat ‘laat’ geplant het en swaar geraak word deur swakker grade wat lae voorrade WM1 gaan beskikbaar hê teen die einde van die seisoen.” Hy wys egter daarop dat die graanmark doeltreffend werk en dit behoort hierdie uitdaging te bowe te kom.

Danksy ’n sterk aanvraag na witmielies vanuit buurlande wat vanjaar swak of ondergemiddelde mielie-oeste aangeteken het, het mieliepryse ondanks die groter oes steeds stewig vertoon. “Dit is goeie nuus vir boere wat ná die langdurige droogtes en lang tydperke van lae hulpbronpryse weer hul inkomste probeer opbou,” sê Clark.