Jan van Riebeeck het dieselfde tipe appelboom met sy koms in die Kaap geplant en het op 17 April 1662, presies 357 jaar gelede, die eerste appels geoes. ’n Inskrywing in Van Riebeeck se dagboek van daardie tyd lui swaar reën het op dié dag geval en ’n sterk noordwestewind het van die see se kant af gewaai toe hy twee appels van die boom in die Kompanjietuin gaan pluk het. Die appels het elk sowat 150 g geweeg. Dié inskrywing word aangehaal in die boek Apples in the Early Days of the Cape, wat tydens die viering bekend gestel is.

Mnr. Buks Nel, kultivarkenner van Tru-Cape, het die boek saam met ’n kollega, mnr. Henk Griesel, geskryf.

Nel het tydens die geleentheid gesê hoewel sy werk eintlik is om nuwe appelkultivars te ontwikkel, is dit nodig om die ou kultivars te leer ken sodat ’n mens kan waardeer waar die bedryf vandag is. “Ek en een van my kollegas het 10 jaar gelede besluit om uit te vind watter kultivars van die 1600’s tot die 1900’s in die Kaap aangetref is. Ons het op ’n hele paar afgekom en toe die boek geskryf. Dit was ’n fassinerende reis vir ons om die navorsing vir die boek te doen. Die belangrikste appel waarop ons afgekom het, is die appels wat vandag presies 357 gelede hier gepluk is.”

Proses

Ná hulle op hierdie inligting afgekom het, is ’n soektog begin om ’n wijnappelboom op te spoor. Dit het jare gekos, maar met die hulp van ’n Nederlandse appelliefhebber is een van dié bome in ’n private tuin opgespoor. “ ’n Mens mag nie die boom se saad na Suid-Afrika bring nie. Jy moet van die boom se hout bring en dit deur ’n proses sit om seker te maak dat dié hout geen siektes bevat nie. Hierdie proses het ses of sewe jaar gelede begin. Almal betrokke daarby was baie hulpvaardig, miskien omdat hulle ook besef het hoe merkwaardig dit sal wees om weer ’n wijnappelboom in die Kaap te hê.”

Nadat die boom deur ‘n kwarantynperiode is, is die hout gebruik om die boom te kweek wat geplant is. “Wanneer die boom weer appels sal dra, is in die hande van die mense wat hom nou moet versorg,” het Nel gesê.

Die appelbedryf is vandag ’n belangrike deel van die plaaslike landboubedryf. Dit is die grootste bladwisselende gewas in die land. Die Wes-Kaap lewer die meeste appels in Suid-Afrika – sowat 845 000 ton, oftewel 10,5 miljard appels per seisoen. Die bedryf, waarvan die waarde op R6 miljard beraam word, verdien die meeste van sy inkomste deur die uitvoer van appels.

Daar is sowat 440 appelboere in Suid-Afrika. Hulle skep regstreekse werksgeleenthede vir sowat 27 000 mense, wat op hul beurt sowat 108 000 afhanklikes ondersteun. Die uitbreiding van die appelbedryf het ook gelei tot die ontwikkeling van infrastruktuur soos spoorweë, paaie en hawens. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.