Dit is veral die toename in oorgrensmisdaad wat sterk bewoorde reaksie van die georganiseerde landbou en die VF Plus ontlok het.

Vrystaat Landbou (VL) het luidens ’n verklaring sy kommer uitgespreek oor die toename in oorgrensmisdaad wat Vrystaatse boerderygemeenskappe wes van die Lesotho-grens teiken.

Dié verklaring volg ná die jongste aanval. Mnr. John Parr van die plaas Yaxham by Tweespruit, tesame met sy vrou, skoonseun en twee kinders is deur vyf aanvallers aangerand.

Mnr. Francois Wilken, voorsitter van VL, sê die emosionele skade wat kinders as slagoffers tydens plaasaanvalle ondervind, moet groter aandag geniet.

Volgens Wilken is die oorgrenssituasie slegter daaraan toe as voor die inperking. “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word tans weens die Covid-19-pandemie daarvan weerhou om Lesotho binne te gaan op soek na vermeende misdadigers,” sê hy. “Magtiging kan klaarblyklik nie deur Interpol bekom word nie aangesien dit op die hoogste vlak deur die Lesotho-regering teengestaan word.”

Hy sê misdadigers buit nou die situasie uit en teiken boerderygemeenskappe toenemend.

Volgens VL het meer as 30 oorgrensvoorvalle sedert die begin van die inperking plaasgevind. Dit behels onder meer die diefstal van meer as 300 stuks vee waarvan sowat 100 by die Caledonrivier teruggevind is. Ander oorgrensvoorvalle sluit huisbraak, die diefstal van sonpanele, voertuie, trekkers en bale voer in, asook aanranding van plaaslike werkers deur Lesotho-burgers.

In die distrik Hobhouse was daar tydens die grendeltydperk twee plaasaanvalle waartydens werkers aangerand en van vee beroof is. Boerderygemeenskappe aangrensend aan Lesotho, soos Clarens, Clocolan, Ficksburg, Hobhouse, Wepener en Zastron, het ook oorgrensmisdaad aangemeld.

“Die situasie is na Agri SA verwys vir uitklaring op die hoogste vlak met die regering,” sê Wilken. 

Landelike beveiliging benadeel

Mnr. Tommie Esterhuyse, Agri SA se veiligheidshoof, betreur die feit dat die beskikbaarstelling van SAPD-hulpbronne en -mannekrag vir die toepassing van die Covid-19-maatreëls die toepassing van landelike beveiliging benadeel het.

Hy is hoopvol dat dié aangeleentheid binnekort met die SAPD se afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring bespreek sal word. “Die georganiseerde landbou plaas druk op die SAPD om sy belofte ten opsigte van die landelike beveiligingstrategie (LBS), wat in Oktober 2019 hersien is, na te kom,” sê Esterhuyse.

Ingevolge die LBS moet spesiale polisie-eenhede vir landelike beveiliging beskikbaar gestel word, asook spesiale taakspanne wat tydens voorvalle van geweldsmisdaad in landelike gebiede ontplooi moet word.

“Die toename in oorgrensmisdaad laat boere geen ander keuse as om die reg in eie hande te neem nie, ten einde hulself, hul familie en werkers te beskerm en om voedselsekerheid te verseker,” sê hy. 

VF Plus

Mnr. Jan van Niekerk, die Vrystaatse leier van die VF Plus, sê die toename in Vrystaatse plaasaanvalle noodsaak landelike beveiliging. “Die aanval deur Lesotho-burgers op die Parr-gesin dien as bewys dat boere se jarelange noodkreet vir die beveiliging van die Lesotho-grens op dowe ore val,” sê hy.

“Die Tweespruit-voorval volg slegs een week ná die aanval op mnr. Chris Mostert buite Reitz op 15 Junie 2020. Die VF Plus loof die spoedige inhegtenisneming van ’n verdagte met ’n gesteelde R5-geweer by Orange Farm.”

Van Niekerk het sy kommer uitgespreek dat, benewens dat die aanvalle kort ná mekaar op ’n toename in plaasaanvalle in die Vrystaat dui, dit ook beteken dat die aanvallers van buite die provinsie reis. “Die onvoldoende polisiëring van provinsiale én landsgrense te midde van streng reisregulasies is onverskoonbaar,” sê hy. 

Twee aanvallers dood, twee gewond

Intussen vorder die polisie se ondersoek na die voorval by Tweespruit, waar twee Lesotho-burgers doodgeskiet en twee ander verdagtes onder polisiebewaking in ’n hospitaal behandel word.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê twee van die aanvallers is op die toneel dood ná ’n skietery, terwyl twee ander, van wie een glo in ’n boom geskuil het, hospitaalbehandeling vir beserings ontvang.

Die polisie soek na minstens nog een aanvaller wat weggekom het.

Boere van die omgewing het glo vinnig op Parr se noodkreet gereageer, paaie afgesper en die omgewing gefynkam.