Mnr. Chris Loubser, wat die soektog gekoördineer het, sê egter hulle glo die gemeenskap se optrede en goeie sigbaarheid het ’n sterk boodskap aan misdadigers uitgestuur.

“My raad is dat boereverenigings belê in die regte toerustig, soos termiese hommeltuie, om hulle in sulke gevalle by te staan. Honde-eenhede behoort ook dadelik op die toneel ingespan te word.”

Mnr. Peter Hartman (65) van die plaas Elandskloof naby Wolseley het gister omstreeks 06:00 in sy voertuig geklim toe drie mans met klapmusse en minstens een vuurwapen sy bakkie nader. Hy kon daarin slaag om weg te ry toe van sy plaaswerkers ook op die toneel aankom. Hartman het hul aandag getrek deur op sy voertuig se toeter te druk. Die vermeende booswigte het daarna bergop gevlug.

Boere van Stellenbosch, Montagu, Ceres, Bonnievale, Tulbagh en Rawsonville het opgedaag om te help soek na die mans. Private maatskappye het helikopters beskikbaar gestel.

“Hier was seker 50 tot 60 mense wat van heinde en ver gekom het om te help soek,” sê Loubser. “Ek wens ek kan almal se name noem om aan hulle erkenning te gee vir die tyd en geld wat hulle afgestaan het om te kom help. Daar was ’n samehorigheid onder die mense en die opkoms het gewys hulle wil ’n sterk boodskap uitstuur.”

Volgens hom wil boere inbrake en aanvalle op plase in die Wes-Kaap voorkom.

Loubser sê dit gaan onder omstandighede goed met Hartman.

“Hy is net dankbaar dinge het nie anders verloop nie.” Geen skote is afgevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie.

Kapt. FC van Wyk van die Wes-Kaapse polisiediens het bevestig dat ’n saak van poging tot roof ondersoek word. Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, speurkonstabel Hendricks, by 023 231 8016 bel.