Die besluit om die verkoopsdatum van katalogus 14 wat op 5 Desember sou plaasvind, uit te stel, is op ’n vergadering van die Wol-en-sybokhaarmakelaarsvereniging en die Suid-Afrikaanse wol-en-sybokbaarkopersvereniging (Sawamba) geneem. 

Boere wat hul wol op dié veiling sou verkoop, sal nou hul betalings eers in die nuwe jaar ontvang.

Volgens Sawamba en die makelaarsvereniging is daar verskeie redes vir dié besluit.

Die eerste rede is dat die tyd- en temperatuurregulasies vir uitvoer na China wat ingestel is ná die uitbreking van bek-en-klouseer vroeër vanjaar, tot ’n agterstand in verskeping gelei het. Dit word ook beïnvloed deur ’n beperking in die aantal beskikbare vaartuie.

Mnr. Isak Staats, bestuurder van wol en sybokhaar by BKB, sê die afstel van die eerste twee veilings van die 2019-’20-bemarkingseisoen weens die onsekerheid oor uitvoer na China het daartoe gelei dat dié twee veilings se volume tussen die res van die veilings versprei moes word. Dit het tot dié agterstand gelei.

Mnr. Clarence Friskin, voorsitter van Sawamba, sê daar moes dus meer tyd geskep word om die agterstand uit te wis om verdere vertragings te voorkom.

Luidens die verklaring is die tweede rede vir die uitstel van die veiling dat die Chinese nuwejaar op 25 Januarie plaasvind en derhalwe kan Chinese wolmeulens nie ná 20 Januarie wol ontvang nie. 

Staats sê as die wol volgende week verkoop sou word, sou kopers gevolglik eers in Februarie hul geld ontvang.

Luidens die verklaring kan veilingspryse nadelig geraak word omdat wolkopers die wol vir langer moet finansier.

Friskin sê dit ’n moeilike jaar in die wolbedryf, veral weens die twee uitbrekings van bek-en-klouseer. “Maar ons het wel gesien dat die bedryf kan saamwerk – van van die produsent, tot die makelaar en koper – en almal kan saam besluite neem wat in belang is van die hele wolketting.”