As Woolworths roofdiervriendelike vleis in sy winkels wil verkoop, is dit belangrik om dié begrip goed te definieer, sê mnr. Harry Prinsloo, voorsitter van die Predasiebestuurforum (PMF). Die winkelgroep behoort ook deursigtige ouditstelsels op te stel om die oorsprong van produkte na te speur, sê hy.

Die PMF verteenwoordig die Rooivleisprodusente-organisasie, die Nasionale Wolkwekersvereniging, die SA Bokhaarkwekersvereniging en Wild SA.

Prinsloo het benadruk dat die Kode vir Beste Praktyke vir Roofdierbestuur, boere pertinent aanmoedig om vleis volgens die mees omgewingsvriendelike metodes te produseer. “Die kode verbied uitdruklik die gebruik van gif as ’n beheermetode.”

Volgens Prinsloo het die PMF reeds prof. Graham Kerly van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit aangewys om ’n omvattende wetenskaplike opname oor die tekortkominge in die bestuurstelsel vir roofdiere te identifiseer.

Die Departemente van Landbou, Bosbou en Visserye en van Omgewingsake het R1,33 miljoen hiervoor bewillig, terwyl die wolbedryf R500 000 en die sybokhaarbedryf R150 000 beskikbaar gestel het. “Dit is ’n bewys dat die lewendehawe-bedrywe ernstig is om wetenskaplike oplossings vir die probleem te vind.”

Hy sê Woolworths het ook R60 000 vir die navorsing aan Kerley bewillig en het glo ’n verdere R4,7 miljoen aan nie-regeringsinstansies beskikbaar gestel om roofdiervriendelike vleis vir die groep te verkry.

Prinsloo het daarop gewys dat boere ook ’n verantwoordelikheid het om hul vee sover moontlik teen siektes, droogtes, rampe én roofdiere te beskerm. “Verbruikers moet ook kennis neem van die wreedheid waaraan lewende hawe blootgestel word wanneer hulle deur roofdiere aangeval word en die pyn en lyding wat dit veroorsaak.”

Hy meen daar is ander maniere om ’n produk te bevorder wat sal verseker dat produsente nie nadelig geraak word nie. Dit sluit omgewingsvriendelike produksiemetodes in wat kan help om rooivleis se koolstofspoor te verminder.