Die span het een van die wêreld se eerste studies in dié verband onderneem. 

“Wanneer kleinhandelaars aandui dat hulle (omgewings-) volhoubare produkte verkoop, kan verbruikers hul woord as waar aanvaar,” skryf die navorsingspan in die joernaal Global Environmental Change. “Min studies het egter nog bepaal of maatskappye wat beweer dat hulle die volhoubaarheid van hul produkte verbeter, werklik praktyke in hul verskaffingskettings verander.” 

Die navorsers het die studie onderneem omdat die landbou een van die sleutelfaktore van die aarde se gesondheid is. Tot 30% van die kweekhuisgasse wat wêreldwyd vrygestel word, kan aan die landbou toegeskryf word. Mnr. Eric Lambin, een van die navorsers, skryf in die joernaal hulle wil kleinhandelaars se projekte evalueer, “want as hierdie beleide doeltreffend is en hulle in staat stel om hul totale voorsieningsketting te transformeer, kan hulle grondgebruikpraktyke wêreldwyd verander en ’n baie gunstige impak op die omgewing hê."

Die groep navorsers het verskeie Amerikaanse kleinhandelaars met soortgelyke projekte genader vir die studie, maar hulle is toegang tot die maatskappye se inligting geweier. Me. Tannis Thorlakson, studieleier, sê Woolworths Suid-Afrika het aan hulle ’n unieke geleentheid gebied deur hulle totale akademiese vryheid te gee om die projek te evalueer en die resultate te publiseer. 

90 boere en ouditeure in drie maande gekontak

Thorlakson het drie maande lank saam met Woolworths se projekspan in Kaapstad gewerk en onderhoude met meer as 90 boere en kenners gevoer. Die maatskappy het verskeie landbou-, omgewings- en grondkundiges in diens om boere met raad en hulp by te staan. 

Boere wat aan die maatskappy lewer, word elke jaar geëvalueer op grond van volhoubaarheidskriteria ten opsigte van grondbestuur, watergebruik, biodiversiteit, afvalverwydering, plaagbestuur, koolstofspoor en omgewingswetgewing. 

Thorlakson sê dit was opmerklik dat die kenners wat die oudits uitvoer, hulle daarop toespits om verhoudings met boere te vestig en boere wil help om hul praktyke te verbeter. 

Sy verduidelik: “Volgens een boer sal ander ouditeure op die plaas aankom en sê: ‘Dis mooi bome wat daar groei.’ Die ouditeur van Farming for the Future sal egter sê: ‘Vertel my van daardie bome – dis ’n uitheemse spesie en hulle benadeel moontlik jou watertafel. Hoekom werk ons nie aan ’n bestuursplan om dit te hanteer nie?’”  Mnr. Peter Wolfaardt, ’n vierdegenerasieboer van Ceres, het aangedui dat die Farming for the Future-projek hulle al baie gehelp het. “Ons het watermeters in die pomphuise om te meet hoeveel water gebruik word. Ten opsigte van plaagbestuur probeer ons om so min as moontlik in te dring, probeer (ons) natuurlike dekbome gebruik . . . omdat ons die beste gehalte vrugte wil lewer.”

Mnre. Ross en John Berg, boere van Clanwilliam, sê hul volhoubare boerdery het met waterbestuur begin. Hulle let met groot sorg op hul waterbronne en neem gereeld monsters om seker te maak dat die voedingstowwe in die water optimaal in die grond benut word. Dankie aan die boere

Intussen sê mnr. Kobus Pienaar, Woolworths se voedselsekerheidspesialis en Farming for the Future-kenner, met die begin van die projek in 2009 was dit hul voorneme om Suid-Afrikaanse praktyke te beïnvloed om omgewingsvriendeliker praktyke aan te moedig. Die projek bestuur die totale boerderyproses met grondgehalte as die kernelement, terwyl waterbestuur ook baie aandag geniet – veral met die waterskaarste wat groot dele van die land ervaar. 

“Ons is baie trots dat die uitslae van Stanford se studie bevestig dat die projek bereik wat dit ontwerp is om te doen. Hoewel dit vir ons ’n groot pluimpie is, kom ’n deel van die lof die boere toe wat ontvanklik was vir verandering en oor die jare voortgegaan het om omgewingsvriendeliker praktyke aan te neem,” sê Pienaar.