Die organisasie betuig in ’n verklaring sy innige meegevoel met die slagoffers se naasbestaandes.

Luidens ’n berig op Netwerk24 is me. Anne-Marie Botha (64) en haar serebraal gestremde seun, Ruan (31), Saterdagaand vermoor terwyl Botha se man, Faan (68), patrollie op die plaas gery het omdat die elektriese heining Vrydagaand gesny en onder meer goedere in die tuin gesteel is. Die slagoffers is vermoedelik met ’n voorwerp doodgeslaan.

’n Saak van moord en roof word deur die polisie ondersoek. Die soektog na die verdagtes het glo onmiddellik begin nadat die voorval aangemeld is. Volgens Netwerk24 is die polisie in Mpumalanga luidens ’n verklaring baie bekommerd oor “die sinlose moorde in die plaassektor”, veral omdat die voorval volg “terwyl die land steeds in skok is nadat twee mense onlangs in Piet Retief vermoor is.”

Mpumalanga Landbou sê die organisasie verwelkom genl.maj. Thulani Phahla, waarnemende kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, se reaksie dat die moorde op plase onmiddellik stopgesit moet word in die lig van die landbousektor se bydrae tot die ekonomie van die land. “Die SAPD word versoek om alles in sy vermoë te doen om die skuldiges aan te keer en te vervolg.”

Die organisasie sê hy is bekommerd dat vroeëre uitsprake deur mnr. Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, rakende die voorval op 9 April op die plaas Pampoenkraal moontlik bygedra het tot dié barbaarse moorde.

Die dagbestuur doen ’n dringende beroep op me. Refilwe Mtsweni-Tsipane, premier van Mpumalanga, en Shongwe om hierdie moorde van twee onskuldige en weerlose mense ten sterkste in die openbaar te veroordeel. “Verder word die owerheid versoek om wet en orde sonder vrees en vooroordeel konsekwent toe te pas.”

Pampoenkraal

Intussen gaan die borgtogaansoek van vier boere, mnre. Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johann Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, en mnr. Zenzele Mzikayise Patric Yende, ’n plaasvoorman, vandag voort in die Piet Retief-landdroshof in die munisipale gebied Mkhondo.

Hulle word aangekla van moord op die broers mnre. Amos en Zenzele Coka. Mnr. Werner Potgieter sterk in die hospitaal aan nadat hy tydens die voorval skedelbreuk opgedoen het. Hy is ook ’n verdagte in die saak en het onderneem om hom aan die polisie oor te gee sodra hy gesond is.

Hy sal saam met Yende en Greyling op bykomende klagte van ontvoering en poging tot moord teregstaan. Malan word ook aangekla van dwarsboming van die gereg.

Die beskuldiges het op 19 April in die hof hul stilswye verbreek en verklarings ingehandig ter stawing van hul borgtogaansoeke. In sy eedverklaring wat aan die hof voorgelees is, erken Klingenberg dat hy een van die Coka-broers geskiet het, maar hy sê dit was uit noodweer.

Boere sê die Coka-broers het daar opgedaag nadat boere een van die oproermakers, mnr. Nhlanhla William Hlatswayo, onder burgerlike arres geplaas het. Die oproermakers was glo aggressief en het volgens Klingenberg se verklaring twee boere aangerand voordat een van hulle op boere geskiet het.

Ingryping nodig

Intussen het Agri SA luidens ’n verklaring ’n versoek tot adj.pres. David Mabuza gerig om met politieke, tradisionele en gemeenskapsleierskap in die Piet Retief-omgewing te skakel om ’n gesamentlike poging te onderneem om, met die samewerking van die landbou- en landelike gemeenskappe in Piet Retief, emosies te kalmeer. Die organisasie vra ook dat die polisie en owerhede toegelaat word om hul ondersoeke na die voorval af te handel. “Die voorval en die toenemende geweld en intimidasie buite die hof waar die hofverrigtinge plaasvind, is ’n groot bron van kommer vir die landbousektor en die breër gemeenskap. Dringende politieke ingryping is nodig om kalmte te herstel en te verseker dat wet en orde te alle tye gehandhaaf word.”

Agri SA, met die samewerking van landboustrukture op voetsoolvlak, is daartoe verbind om met die presidensie saam te werk om ’n situasie te voorkom waar meer geweld en meer aanvalle kan lei tot vergelding, vernietiging van eiendom, vandalisme en chaos.

Luidens die verklaring het die plaaslike landbouvereniging, Agri Piet Retief, met die samewerking van die boereverenigings van Annyspruit, Commondale, Iswepe/Panbult, Klein Vrystaat, Moolman, Sulphur Springs en Wolwekop hul lede versoek om nie vandag die hofverrigtinge by te woon nie.

“Die families van die beskuldigings het uitdruklik gevra dat die publiek nie die verhore bywoon nie, omdat dit kan lei tot meer geweld,” lui die verklaring.