Mnr. Johan Reyneke se gemiddelde opbrengs was konstant, plaagbestryding is goedkoper en boonop besproei hy nou 50% minder as toe hy destyds konvensioneel geboer het. En oor die gehalte van sy wyn kan daar nie gedebatteer word nie.

Hoewel sy totale opbrengs met gemiddeld 1 t/ha gedaal het sedert hy rondom die eeuwending eers die organiese en later biodinamiese roete ingeslaan het, is die boerdery baie meer winsgewend.

“Ons het beheer geneem van ons produksiekoste deur in ons eie behoeftes te begin voorsien.”

Wyle Jean Malherbe van Bloublommetjieskloof naby Wellington het hom destyds aangemoedig om biodinamika te beproef. “Biodinamika word dikwels die voedoe van wingerdbou genoem, maar eintlik is dit soos ’n tafel wat op vier bene rus.”

Dis selfversorgendheid, ’n begrip oor die inherente waarde van dinge, preparate en die plantkalender. ’n Trop Nguni-beeste het hom selfversorgend gemaak. Hulle verwerk kelderafval – soos doppe en stingels – en omskep dit in ’n bate (kompos), wat weer in die wingerd gebruik word. Hulle doen ook onkruidbestuur, omdat hulle wintertyd in die wingerd wei.

“Jy skep ’n geslote stelsel. Só gebruik jy die natuur om mettertyd die grond op te bou. Danksy die verhoogde humusvlakke is ons grond se waterhouvermoë beter en afloop minder.”

Diere, werknemers en plante se inherente waarde as items wat waarde kan toevoeg, word gerespekteer. “Ons beeste word nie onthoring nie, hulle leef vry, hulle gaan nie na ’n voerkraal toe nie. Ons is dankbaar vir al die ander dinge wat hulle ook na die plaas toe bring, soos hul mis, hul vermoë om weidings te skep en hul vermoë om my kalmer te laat voel.”

Die laaste twee bene, preparate en die plantkalender, is die vreemde dinge wat mense gewoonlik van biodinamika afsit, vertel Johan. Daar is 9 preparate – 500 tot 508. Die preparate 500 en 501 is die boordspuite, 502 tot 507 is kompos-preparate en 508 word gebruik teen swamsiektes.

Johan raadpleeg die biodinamiese kalender, maar volg dit nie dogmaties nie. “Vir my is biodinamika ’n lekker stelsel, dis goed vir die omgewing, dis winsgewend en dit hou boerdery interessant."

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.