Só sê mnr. Beyers Truter, bekroonde wynmaker, oor mnr. Kosie Steenkamp (71), eienaar van die wynplaas Groenland, wat op 27 Junie in die Louis Leipoldt-hospitaal in Bellville gesterf het.

Steenkamp is oorlede binne vier weke nadat kanker by hom gediagnoseer is.

“Ons kon vir oulaas lekker familietyd saam met hom geniet voor ons in sy laaste week besef het die einde is naby,” sê mnr. Piet Steenkamp, Steenkamp se naasoudste seun.

Steenkamp jr. en sy pa het 20 jaar lank saam op Groenland, wat al vier geslagte lank in familiebesit is, geboer. Steenkamp, wat op Sutherland grootgeword het, het in 1973 die wynplaas oorgeneem ná sy skoonpa se dood.

“Ek en my pa het van dag een af besluit ons gaan nie deel van die statistieke wees nie, maar ons gaan lekker saamboer. Ons was ook vriende en bure,” vertel Steenkamp jr.

Hy het sy pa met ’n groot boom in die middel van ‘n woud vergelyk.

“Sy takke verteenwoordig sy invloed. My pa was baie betrokke by die gemeenskap – van skole tot kerke en landbou-organisasies. Hy het ’n fantastiese hart gehad. Die boom se stam verteenwoordig sy standvastigheid. Hy was ’n anker vir ons as familie. Die wortels verteenwoordig sy waardestelsel en beginselvastheid. En al val die boom om, die wortels bly in die grond vir sy nageslag. Daar is nou ’n gat in die woud, maar die dinge wat hy ons geleer het – die boomwortels – dit bly in die grond.”

Netjiese boer

Truter, wat by Steenkamp wyn gekoop het, sê hy het altyd ’n goeie produk gelewer. “Hy was een van daardie netjiese boere; iemand wat kón boer.”

Truter sê sy en Steenkamp se paaie het in die 1980’s tydens SA Jongwynskou-vergaderings gekruis.

“Ek onthou dit soos gister. Kosie het so ’n aansteeklike lag gehad en hy kon die mooiste stories vertel. Hy was regtig ’n juweel van ’n mens. Een van sy grootste eienskappe was dat hy ’n diep kind van die Here was. Hy’t ’n liefde vir sy medemens uitgestraal oral waar hy gaan, ongeag of hulle ryk of arm, wit of bruin was. Hy was van die Karoo tot hier bekend en gelief.”

Steenkamp jr. sê die familie vind berusting en vrede in die feit dat Steenkamp “en die Here mekaar goed geken het”.

“Hy is nou weg, maar het net goeie dinge agtergelaat.”

Die familie het op Woensdag 1 Julie op Groenland van Steenkamp afskeid geneem, waarna ’n amptelike gedenkdiens die volgende dag in die NK kerk Kuilsrivier-De Eike plaasgevind het. Ds. Hannes Burger se boodskap was uit Ps. 16 - dieselfde teksvers as waarmee Steenkamp en sy vrou destyds getroud is.

Steenkamp laat sy vrou, Heléne, vier kinders – De Bruyn, Piet, Antoinette en Maré – en twaalf kleinkinders agter.

Besoek https://youtu.be/sgShLH1wI5o vir ’n video oor die gedenkdiens.