Die regulasies beskou slegs kosprodukte en nie-alkoholiese drankies as noodsaaklike produkte wat tydens die nasionale staat van inperking van 21 dae verkoop en geproduseer mag word. Klik hier om die regulasies te lees.

“Die bedoeling is skynbaar dat alle handel en produksie van alkoholiese produkte tydens die inperking gestaak moet word,” het mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, Woensdagaand in ’n omsendbrief aan wynboere geskryf.

Duisende tonne druiwe moet nog geoes word en talle kelders is nie klaar gepars nie. Aanvanklik was die bedryf hoopvol dat hy as ’n landboubedryf met sy bedrywighede mag voortgaan.

Luidens die kennisgewing mag geen alkohol in die Suid-Afrikaanse mark verkoop word tydens die inperking nie. Slegs alkohol wat vir nywerheidsdoeleindes aangewend word, mag geproduseer word.

“Ons is uiters teleurgesteld met die regulasies. Die finale dokument weerspreek verbale ondernemings deur nasionale departemente binne die regering se ekonomiese groep (cluster),” sê Basson.

Die organisasie, wat bykans 2 500 wynboere en -kelders verteenwoordig, berei tans ’n dringende aansoek voor waarin hulle die regering versoek om uitsonderings te maak vir die wyn- en brandewynbedrywe.

“Dit is gegewe die potensieel katastrofiese sosio-ekonomiese gevolge wat dit inhou as die ratte môreaand tot stilstand moet knars.” 

Prioriteite

Basson sê hul eerste prioriteit is om toestemming te kry sodat die oesaktiwiteite oor die volgende twee weke voltooi kan word en voorraad beveilig sal word.

Die tweede prioriteit is om die huidige regulasies wat wynuitvoere verbied teen te staan.

“Dit is ’n baie belangrike aspek vir huidige en toekomstige ekonomiese volhoubaarheid en sosio-ekonomiese stabiliteit.”

Die bedryf neem sowat 300 000 mense (direk en indirek) in diens. Dit is een van die grootste uitvoerbedrywe in die Wes-Kaap en ’n belangrike verdiener van buitelandse valuta. Verlede jaar is sowat 320 miljoen liter wyn uitgevoer.

Basson het boere en belanghebbendes verseker dat hulle hul bes sal doen om ’n meer gunstige situasie te beding.