Die besoeker, wat as pasiënt zero van die Wynland bekend staan, was deel van ’n toergroep van meer as 30 mense van die Nederlandse Wynakadamie. Hulle het vroeg in Maart sowat 30 plase tydens hul besoek van tien dae besoek. Op Sondag 15 Maart het die besoeker ’n e-pos aan die produsente gestuur waarin hy hulle inlig dat hy positief getoets het vir die pandemiese virus.

“Ek voel goed en is nie bekommerd oor my gesondheid nie, maar sal vir so lank as wat dit nodig is in Suid-Afrika in kwarantyn bly, ek veronderstel vir veertien dae,” het hy geskryf. 

Uit die groep het minstens nog ses mense ligte simptome soos ’n seer keel of koors getoon, maar niemand is getoets nie. “Almal sal so ver as moontlik in kwarantyn of selfisolasie bly.”

Dit het paniekgolwe deur die bedryf gestuur. Plase het dadelik hul higiëniese maatreëls verskerp, personeel wat in regstreekse kontak met die Nederlanders was, is laat toets en in verskeie gevalle is die drastiese stap gedoen om die plase tydelik te sluit.

Die Delheim-wynlandgoed was een van die eerstes wat aangekondig het hy sluit vir twee weke.

“Dis ons topprioriteit om ons gewaardeerde besoekers, personeel en hul families te beskerm teen moontlike oordrag van die siekte,” sê me. Nora Thiel, uitvoerende hoof van Delheim, in ’n verklaring. Sy en vier personeellede is in selfisolasie. Ná tien dae het hulle nog nie simptome getoon nie.

Sedertdien het onder meer Steenberg-wynlandgoed in Tokai, Bosman Family Vineyards se Frame House op Hermanus, Almenkerk-wynlandgoed in Elgin, Gabriëlskloof in Botrivier, Graham Beck-wynlandgoed op Robertson, Leeu Estates, Anthonij Rupert Wines en L’Ormarins-landgoed op Franschhoek, en Kanonkop en Tokara op Stellenbosch toegang tot hul persele beperk.

Me. Maryan Calow, kommunikasiebestuurder by Wines of South Africa, sê toerisme is ’n belangrike deel van die wynbedryf. Die afname in toerisme sal die bedryf hard slaan.

“Die impak gaan groot wees. Hierdie is maar net die begin. Dit kan nog erger raak voor dit beter raak.”

Sy sê wynprodusente kan tans nie plaaslike of internasionale skoue bywoon om hul wyn te bemark nie, hawens is reg oor die wêreld gesluit, wat uitvoer bemoeilik en bestellings word nie geplaas nie of gekanselleer.