Die reën wat dié stelsels bring kan ook langs die Suid- en Ooskus uitbrei om ook reën vir die Oos-Kaap te bring, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Dit word veral verwag vir die periode van 17 tot 20 Augustus en dan ook weer van 25 tot 27 Augustus.

Reën word die week en die naweek oor dele van die winterreënstreek verwag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens maan dat stormsterkwinde tussen Kaappunt en Kaap Agulhas môre kan voorkom.

“Die reën in die res van Augustus en eerste deel van September is baie goeie nuus vir wintergraanboere en goeie opbrengste kan moontlik behaal word, alhoewel die groei (van gewasse) ietwat vertraag is weens die koue toestande wat vanjaar heers,” aldus Van den Berg.

Somerreënstreek

Intussen waarsku Van den Berg dat lae temperature en ryp tot ten minste die middel van September oor die somerreënvalstreke kan voorkom. ’n Nie-amptelike temperatuurmeting het op 11 Augustus nog -12°C by Warden in die Vrystaat aangedui. “Dit is veral die periode rondom 12 tot 17 Augustus waar minimum temperature ver onder die vriespunt kan voorkom en temperature onder -5°C kan rondom 17 Augustus voorkom wat uitermatig is vir hierdie tyd van die jaar.” Dié lae temperature word oor die Hoëveld van Mpumalanga asook in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes, die Noord-Kaap, Oos-Kaap en noordelike binneland van die Wes-Kaap verwag.

Die kans vir meer as 10 mm reënval oor die oostelike dele van die somerreëngebied is meer as 50% rondom 20 en 21 Augustus. “Dit is veral die oostelike binneland wat Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die noordelike dele van die Oos-Kaap insluit, waar nat en baie koue toestande rondom hierdie periode kan voorkom.” Van den Berg maan veeboere dat dié koue en nat toestande oor die sentrale, oostelike en suidoostelike dele van die land gevaarlik kan wees en dat hulle korttermynweervoorspellings moet nagaan om seker te maak dat hulle betyds voorbereidings tref om hul vee te beskut.

Reënval en damvlakke

Swaar neerslae het sedert 9 Augustus oor die Suidwes-Kaap en Weskus voorgekom, met tot 70 mm wat by Ceres gemeet is. By Kirstenbosch is sowat 30 mm gemeet, by Villiersdorp 50 mm, by Malmesburg 30 mm en by die Paarl 20 mm. Ligte neerslae het so ver noord soos Springbok geval, waar dele van die omgewing 4 mm gemeet het, terwyl dele by Kamieskroon en Nieuwoudtville onderskeidelik 7 mm en 6 mm gemeet het.

Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die provinsie se damvlakke het die afgelope week na 62,2% gestyg. Hy sê daar is steeds streke in die provinsie wat onder droogtetoestande gebuk gaan. “Die binnelandse gebiede van die provinsie, veral die Karoo-streke, is steeds onder druk, veral die landbousektor. Van die streke het vir meer as vyf jaar nie goeie reën gehad nie. Ons monitor die gebiede en bied ondersteuning aan saam met ons provinsiale en nasionale kollegas.”

Die Stad Kaapstad se damme is 62,5% vol. Op dieselfde tyd verlede jaar was dié damme 52,5% vol. Van die vernaamste damme se vlakke sien tans so daaruit:

·         Die Voëlvleidam is 74,1% vol die week. (Dieselfde tydperk in 2019: 83,6%. Verlede week: 73,2%.)

·         Die Bergriverdam is 101% vol die week. (Dieselfde tydperk in 2019: 101%. Verlede week: 97,1%.)

·         Die Theewaterskloofdam is 73,2% vol die week. (Dieselfde tydperk in 2019: 70,3%. Verlede week: 73,02%.)

·         Die Clanwilliamdam is 100,8% vol die week. (Dieselfde tydperk in 2019: 97%. Verlede week: 100,09%.)