Bloomberg berig die aanbod word gedoen vir verbeterings wat aangebring is en bates wat bestaan het op die meer as 4 000 plase wat afgevat is. Dit hou nie verband met die grondwaarde self nie, het mnr. Ben Gilpin, direkteur van die Commercial Farmers’ Union (CFU), gesê. Dié vereniging verteenwoordig die meeste kommersiële boere in Zimbabwe en is in onderhandelings met die regering van mnr. Emmerson Mnangagwa, Zimbabwiese president, gewikkel om ontneemde boere te vergoed vir hul verlies. Die minister van landbou, mnr. Perrance Shiri, en amptenare in die department van finansies het nie op Bloomberg se navrae oor die aanbod gereageer nie.

Dit is nie duidelik waar die land die geld in die hande sal kry om vergoeding te betaal nie.  Inflasie van meer as 800% woed tans in Zimbabwe en die land gaan gebuk onder tekorte aan buitelandse valuta, brandstof en voedsel. Meer as 90% van die bevolking is werkloos.

“Zimbabwe is bankrot. Hy stel gereeld ’n nuwe geldeenheid bekend om die stelsel te probeer stabiliseer, maar dit duur nie lank voordat dit soveel waarde verloor dat dit in onbruik verval nie,” sê prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom. Hy sê Zimbabwe het geen geldreserwes nie en dit is ook bekend dat dié land die Internasionale Monetêre Fonds en ander buitelandse leners groot bedrae agterstallige lenings en rente skuld. “Die gedagte (om vergoeding te betaal aan wit boere) is al ’n jaar of twee in omloop en ek kan werklik nie sien dat Zimbabwe ná 20 jaar die kapitaal sal kan leen of as ’n skenking gaan kry nie.”

R129 miljard

Die jongste skikkingsbedrag wat aangebied word, is net ’n druppel aan die emmer van die waarde van die plase waarop beslag gelê is. Vroeër het ’n onafhanklike waardeerder, ValCon, ’n beraming vir die CFU gedoen, en die waarde van die plase wat die afgelope twee dekades deur die Zanu-PF-bewind onteien is, as R129 miljard bereken.

Die aanbod is ’n poging om dié dispuut wat die Zimbabwiese ekonomie in vrye val geplaas het, op te los.

Die Zimbabwiese regering hou steeds vol dat Brittanje, die voormalige koloniale moondheid, moet help om die boere te betaal, iets wat onwaarskynlik sal gebeur omdat die Britse regering die grondvergrype as onwettig beskou en saam met ander buitelandse moondhede krities staan teenoor die toekenning van plase aan hoë politieke ampsdraers van die regerende party. “Die internasionale gemeenskap plaas baie druk op Zimbabwe en sien die onteiening van grond sonder vergoeding as ’n verbreking van internasionale beleggingsooreenkomste en daarom wil hulle nie belê nie en ook nie sanksies teen leiers ophef nie,” sê Willemse.

Willemse sê as die internasionale gemeenskap sulke druk op Zimbabawe uitoefen, kan die ANC ’n soortgelyke of selfs heftiger reaksie ervaar as onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika toegepas word. “Een voorbeeld van die afkeur van buitelandse beleggers is die gebrek aan vordering deur pres. Cyril Ramaphosa se span beleggingsambassadeurs wat internasionale beleggings moes werf. Skynbaar is buitelandse beleggers nie bereid om hul kapitaal op die spel te plaas, terwyl onteiening sonder vergoeding ’n risiko is nie.”