“Moet asseblief nie na politieke mense luister nie. Hulle wil onsekerheid skep, vir politieke doelwitte.”

Dit was mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se beroep op die landbousektor by 'n simposium deur die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), Landbounavorsingsraad (LNR) en Land Bank in Centurion.

“Die landbou moet beskerm word. Soos wat kleinskaalse boere ontwikkel word, moet ons ook die rol beskerm wat kommersiële boere speel,” het Zokwana gesê.

“Wanneer ons sê ons wil die ekonomie saam laat groei, sou ons 'n Suid-Afrika wou sien waar boere geen kleur ken nie, waar hulle nie belemmer word deur verskillende tale nie, maar ten alle tye saamwerk om 'n beter Suid-Afrika te bou.”

'Gee die nasie kos'

Zokwana het die sektor gevra om voedsel te produseer sodat die nasie gevoed kan word, en gesê die staat se rol is om beleidsekerheid en toegang tot markte te skep.

Hy het 'n beroep gedoen op navorsers, beleidmakers, kundiges en boere om die sektor vir almal haalbaar te maak en gesê baie werk is reeds gedoen om landbou se potensiaal vir Suid-Afrika te ontsluit.

Zokwana sê globale ekonomiese en politieke neigings rondom onder meer Brexit en die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) moet in gedagte gehou word, omdat dit Suid-Afrika se marktoegang kan raak.

Agoa kan volgens hom egter nie as die rede vir die krimpende Suid-Afrikaanse pluimveebedryf beskou word nie, omdat dit eerder Europese invoer van hoender is wat 'n demper op die bedryf plaas.

Beskerm ons eie bedrywe

“Ons as Regering moet instrumente ondersoek wat ons kan gebruik om ons eie bedrywe te beskerm. Ons kan nie 'n situasie toelaat waar almal bruin vleis hier stort, terwyl ons nie ons wit vleis aan daardie markte kan verkoop nie.”

Zokwana het die sektor aangemoedig om geleenthede vir uitvoer na Brics-lande te ondersoek. Suid-Afrika het volgens hom reeds die geleentheid om duif-ertjies, varkvleis, mango’s en persimmons na Indië uit te voer.

Zokwana het 'n pas getekende memorandum van verstandhouding tussen die NLBR, die LNR en die Land Bank verwelkom.

Hy het gesê klimaatsverandering bied geleenthede vir meer navorsing en innovering sodat die land homself beter kan voorberei op natuurlike uitdagings soos droogte, nuwe plae en dieresiektes.