Zokwana is een van menige invloedrykes wat saamstem dat iets daadwerkliks aan die situasie gedoen moet word en dat die Swart Maandag-optogte wat plaasgevind het, “nie gesien moet word as boere wat probeer om die Regering aan te val nie”.

Hy wil graag hê regeringsdepartemente en landbou-organisasies moet saamwerk om die wrede plaasaanvalle gesamentlik die hoof te bied.

Beraad teen plaasaanvalle kom
In hierdie gees onderneem Zokwana nou om vroeg volgende jaar ’n beraad oor geweld teen landelike gemeenskappe te hou, waarvan die relevante belanghebbendes, soos plaasgemeenskappe en ministers van verskeie portefeuljes, deel sal wees. Mnr. Fikile Mbalula, Minister van Polisie, het dit ook onomwonde gestel dat boere en die landelike gemeenskap ondersteuning en beveiliging van die polisie benodig.

Zokwana sê op die beraad sal die kwessie van geweld in detail bespreek word en geskikte oplossings sal ontwikkel word.

Intussen sal die departement voortgaan om te verseker dat alle relevante regeringsdepartemente en -agentskappe betrokke raak by die stryd teen plaasmoorde.

“Die departement verbind hom daartoe om saam met belanghebbendes in die sektor te werk om te verseker dat daar maksimum deelname van die plaasgemeenskappe by onderrig en opleiding oor hul menseregte en regte sal wees.”

Swaar tye
Volgens Zokwana is dit byna onmoontlik om presies te kwantifiseer wat die impak van plaasaanvalle op belegging in die landbousektor, asook die uitbreiding van die sektor, werkskepping en voedselsekerheid, gehad het.

Dit is omdat hierdie gebeure afspeel in ’n tyd waarin ander faktore, soos die droogte, kommandowurms, voëlgriep en oorstromings, ’n nadelige impak op landbouproduksie gehad het. 

Indien die huidige situasie voortduur en alle belanghebbendes nie die nodige aandag daaraan skenk nie, sal dit ’n nadelige impak op Suid-Afrika se ekonomie en voedselsekerheid hê, sê Zokwana.