Hy het gewaarsku dat geen provinsiale landboudepartement geld van die stimuluspakket sal kry as die departemente nie self die projekte in werking kan stel nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs ’n stimulus- en herstelplan van miljarde rande vir Suid-Afrika aangekondig waarvolgens veral die landbousektor sterk steun sal kry.

Zokwana, wat die tweejaarlikse nasionale grondbewaringsberaad in Bloemfontein toegespreek het, het volgens Netwerk24 amptenare van die departement oor die kole gehaal.

Hy het gesê dit is ’n skande dat landboudepartemente implementeringsagente – en nie hul eie amptenare nie – gebruik om projekte te bestuur. Dit bring mee dat die departemente baie geld bestee en heeltemal beheer verloor oor wat by die projekte aangaan.

Hy het die landboudepartement in Noordwes as voorbeeld gebruik van een departement wat nie landbouprojekte self bestuur nie.

Zokwana het selfs so ver gegaan om die skuld vir die feit dat 16% van die poste in die departement vakant is, gelê op die feit dat sommige amptenare “groot salarisse” verdien.

Vroeër vanjaar was Zokwana self in die moeilikheid omdat hy na bewering onreëlmatige verhogings aan 11 amptenare toegestaan het en van die amptenare die geld moes terugbetaal.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.