Pres. Jacob Zuma moet kalmte in die land bring na die afgelope tyd se spanning, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.

Luidens ‘n verklaring sê hy: “Ons doen ‘n beroep op pres. Zuma om hom te vergewis van die huidige ontstellende omstandighede en gebeure wat op die landbou en landelike gemeenskappe impakteer.”

Oor opvlammende humeure het Möller gesê “kommersiële boere word in besonder getref deur verskeie ongunstige ekonomiese omstandighede, soos lae kommoditeitspryse en stygende insetkoste, wat hulle met min of geen geduld laat vir kwaadwillige politieke uitsprake nie.”

Plofbare situasie

Volgens Möller het die moord van mnr. Eugéne Terre’Blanche, die voormalige leier van die AWB en ‘n boer van Ventersdorp, tot ‘n reeds plofbare situasie bygedra. “Die sogenaamde kulturele liedere wat in die onlangse verlede weer gesing is, moes lankal totaal verbied gewees het. Voeg hierby politieke uitsprake oor die moontlike nasionalisering van plase en ongegronde beskuldigings dat boere wreedaardig teenoor hulle werkers optree,” sê hy.

Intussen het Agri SA ‘n versoek aan Zuma en die leierskap van die ANC gerig vir spoedige samesprekings. Möller sê al het hulle onlangs tydens hulle landelike misdaadkonferensie met mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, konsensus bereik oor ‘n aantal veiligheidsgeleenthede, is verdere samesprekings baie nodig. “Dit is nogtans van onmiddellike belang dat samewerking met die polisiemag verbeter moet word vir landelike veiligheid.”

Hy het bygevoeg dat verdere geweldsmisdade in landelike gebiede normaalweg gematigde mense tot radikale optrede kan aanspoor, en dit is ‘n situasie wat Agri SA wil vermy - en die organisasie glo so ook die land in die algemeen.

“Ons doen ook ‘n beroep op ons lede om nie die reg in eie hande te neem nie. Agri SA sal nie verantwoordelikheid aanvaar vir enige onwettige optrede nie. Ons vertrou dat hierdie gesindheid ook deur alle landsburgers eerbiedig sal word,” sê Möller.

9 April 2010