Die onwettige protesoptrede deur mense wat beweer hulle betoog vir die vrylating van oudpres. Jacob Zuma, gaan landwyd gepaard met plundery en diefstal.

Mnr. Piet Engelbrecht, voorsitter van Agri Limpopo, sê hoewel al die vragte landbouprodukte wat tans op die paaie opgehou word ’n saak van kommer is, raak hy ál meer bekommerd oor die veiligheid van boere, hul werkers en hul eiendom.

Veral die provinsie se sitruskwekers ly tans skade. Die sitrusuitvoerseisoen is in volle gang en ’n vinnige opname oor die naweek het gewys daar was 547 vragte vars produkte ter waarde van R247 miljoen op pad na die Durbanhawe.

“Dit alles staan nou stil en elke dag dat ons nie produkte kan stuur nie, is dit omtrent 500 vragte wat nie verskuif word nie,” sê Engelbrecht.

Paaie tussen Mpumalanga en Gauteng is ook versper en Transnet het ’n brief aan sitruskwekers gestuur om te laat weet dat terminaal 1 en terminaal 2 van die Durbanhawe weens personeeltekorte gesluit is. Die ontwrigting weens betogings en plundery in KwaZulu-Natal verhinder mense om werk toe te gaan.

Intussen betaal skepe wat in die hawe op vragte lê en wag omtrent $8 000 per dag. Boere hoop dus dat die ontplooing van die weermag in KwaZulu-Natal en Gauteng sal help om die situasie onder beheer te bring sodat produkte weer vrylik langs die land se hoofroetes na markte en hawens vervoer kan word.