Mission Fruit en ZZ2 het onlangs, in vennootskap met die logistieke maatskappy Core Fruit, Mission Produce SA bekend gestel. Me. Lindie Stroebel staan aan die stuur daarvan. Stroebel, wat spesialiseer in strategiese posisionering en beleidsonderhandelinge vir landboubesigheid, was tot onlangs die bestuurder van die varsproduktebemarkingsvereniging PMA.

Sy sê die vennootskap verseker nie net ’n groter netwerk kliënte vir ZZ2 se avokado’s waar daar marktoegang vir Suid-Afrika is nie, maar ook die gemoedsrus dat avokado’s van die hoogste gehalte op die bord van die eindverbruiker beland. “As ’n mens na ’n mark soos China se sekondêre stede kyk, waar tonne oorryp of groen avokado’s verlede jaar weggegooi is omdat sommige uitvoerders nie voldoende kundigheid en verrypingsgeriewe het nie, besef jy hoe belangrik dit is om ’n ervare vennoot aan die ander kant van jou waardeketting te hê,” sê Stroebel.

INVLOEDRYK

Mission is ’n wêreldwye handelsmerk wat met gehalteprodukte verbind word. Die maatskappy lê baie klem daarop dat hy nie net die verspreider van sy produkte is nie, maar ook die produsent. Dié status word deur die maatskappy verkry deur sy avokado’s self in lande soos Peru, Guatemala, Mexiko, Colombia en Amerika te produseer. Dit word dikwels gedoen in vennootskap met vooraanstaande boerderye in daardie lande, soos wat nou met ZZ2 in Suid-Afrika die geval sal wees.

Daar is ook derdeparty-verskaffers wat voldoen aan Mission se vereistes wat gehalte en produksieprotokolle betref en wie se vrugte onder die Mission-handelsmerk bemark word. Dit is een van die geleenthede wat Mission Produce SA vir Suid-Afrikaanse produsente inhou, sê Stroebel. Boere wat as derdepartyverskaffers toegang tot die nuwe vennootskap se bemarkingskanale wil kry, kan met haar in verbinding tree.

Sy sê boere wat deel word van die Mission-bemarkingskanaal, sal ook toegang kry tot die plantmateriaal en landboukennis van ZZ2, met Core Fruit wat die logistiek aan die Suid-Afrikaanse kant sal behartig.

Die vennootskap kan heel moontlik Suid-Afrikaanse verbruikers ook in November, Desember en Januarie bevoordeel, wanneer daar ’n tekort aan gehalte-avokado’s op die plaaslike winkelrakke is. Mission se boerderye in die Noordelike Halfrond sal dan help om gehalte op plaaslike rakke te verseker. Mission spesialiseer in Hass-avokado’s, waarvan die Maluma-kultivar ’n voorbeeld is.