Die vroeë bewoning van wit mense in Suid-Afrika was hoofsaaklik beperk tot die onmiddellike omgewing van die Kaap. Die eerste boere was, met inbegrip van die Kompanjietuin, beperk tot die gebied sover as die Sout- en Liesbeek-riviere.

Die Kaap het sterk geleen op buiteposte, altesaam 46 van hulle op verskillende tye, verder weg van die Kasteel. Dit was hoofsaaklik om as basis te dien vir ruilhandel met die inheemse mense, verkryging van vee, strategiese beskerming en die afspring vir verdere uitbreiding.

Om 'n paar te noem: Só was drie daarvan Rustenburg en ’t Nieweland vir groente- en vrugteproduksie, Vishoek vir die winterhawe in Valsbaai, en D Schuer en Hottentots-Holland( later Van der Stel se plaas Vergelegen) vir graan.

'n Sogenaamde slagtersveld, 'n strook van ongeveer 10 km by 80 km vanaf Blaauwberg Noord, is gebruik om slagvee op vet te maak.

Migrasie van blankes

Uit die aard van die saak was die ontwikkeling en migrasie van blankes in mededinging met die Khoikhoi in daardie omgewing vir die natuurlike hulpbronne, en dit het tot gevolglike konflik gelei.

Die totale Khoikoi- en San-bevolking aan die Kaap en Suid-Kaap het gesamentlik na raming sowat 75 000 mense getel. Indien die noordelike groepe ook in berekening gebring word, kom die totaal op nagenoeg 200 000 mense te staan. Benewens die hulpbron-konflik het drie pokke-epedemies in 1713, 1755 en 1767 verwoesting gesaai onder die Kaapse bevolking, maar veral onder die Khoikhoi. Tydens dié epidemies het hele stamme uitgesterf. Meeste van die oorblywende Khoikhoi het daarna na die binneland migreer (Om meer konteks te bied: In 1795, met die eerste Britse sensus in die destydse Kaapkolonie, is 20 000 koloniste, 25 754 slawe en 1 700 vryswartes getel. Teen 1800 was daar tussen 60 000 en 70 000 mense binne die grense van die kolonie en in 1820 is die telling van KhoiKhoi en basters op 25 975 gestel.).

Kaapse nedersetting

Tot op daardie tydstip was die Kaapse nedersetting beperk tot die sandvlakte rondom die skiereiland. Ná die verbrokkeling van die Khoikhoi-stamme het die Kompanjie besluit op verdere uitbreiding en plase en die gebiede Stellenbosch, Drakenstein (Paarl), Olifantshoekvallei (Franschhoek), Tygerberg, Wagenmakersvallei (Wellington), Swartland (Malmesbury) en die land van Wavern (Tulbach), is gevestig.

In 1714 besluit die destydse regering die gebied ten weste van die berge (Boland) is ten volle beset en begin met die uitreik van wei-lisensies en die leningplaasstelsel volg, anderkant die berge. Dit was die begin van 'n onstelselmatige kolonialisering van die binneland in daardie omgewing, deur min kolonialiste versprei oor 'n wye gebied.

'n Tydskaal van migrasie na die ooste van die land deur die trekkers word vervat in kaart hieronder.

Teen die einde van die VOC-bewind aan die Kaap, het die Kompanjie jurisdiksie gevoer oor 2 860 000 hektaar grond. Dit is 22,1% van die huidige oppervlakte van die Wes-Kaap-provinsie of 2,3% van die RSA.

Op vroeë besoeke aan die binneland is bepaalde roetes gevolg (sien kaart hieronder) wat die reisigers (dit sluit 'n paar trekboere in) noodwendig met binnelandse nedersetters in beperkte areas in aanraking sou bring. Eers met die begin van die Groot Trek is op meer uitgebreide verkennings van die binneland gegaan.

Aan die Groot Trek het aanvanklik nagenoeg 6 000 mense (die eerste golf) deelgeneem. Sowat 20% van die wit mense uit die oostelike deel van die Kaap en 10% van die Kaapkolonie. Teen 1845 het sowat 2300 gesinne (15 000 burgers en hulle gesinne) en 5 000 knegte die kolonie verlaat. Gebaseer op die beginsel van permanente verblyf in 'n bepaalde omgewing, kon die trekkers nouliks groot dele van die binneland beset. Veral as verder in ag geneem word die deelname van die verskillende trekgroepe en die rigtings deur hulle ingeslaan. (Sien kaart van trekroetes hieronder.)

Nadat Vasco da Gama die baai van huidige Durban, die eerste keer in 1497 bereik het, is dié gebied net van tyd tot tyd deur skepe en handelaars besoek. Eers teen 1824 is 'n formele ontwikkeling en nedersetting gevestig, met die totstandkoming van die eerste Engelse gebied, 3500 vk myl (560 000 ha), of ongeveer 6% van die huidige KwaZulu-Natal. Teen 1848 was daar nagenoeg 5000 blankes in die area.

Die samevattende uiteensetting gee 'n prentjie van wit okkupasie van die land na net meer as 180 jaar ná die koms van Jan van Riebeeck. Oor die volgende 170 jaar plus ontwikkel die status soos hy vandag daaruit sien.

* Johann Bornman is voorsitter van ADS, en hy doen 'n grond-oudit met die samewerking van Landbou.com en Landbouweekblad.