Die afgelope tyd raak die nagevolge van die droogte al hoe meer sigbaar, onder meer deur die aantal plase in die mark en die afwaartse grondprysneigings in dele van die Vrystaat, die Noord- en Oos-Kaap en in Noordwes, wat erg deur droogte geknou word. Die vraag ontstaan onwillekeurig hoe grondpryse in die landbou oor die laaste paar jare gepresteer het, waar dit tans staan en hoe dit die landbou-toekoms raak.

Inligting uit die nasionale grond-oudit wat Agri Development Solutions (ADS) en Landbouweekblad onderneem, toon dat vir die tydperk 2002 tot 2016 in totaal 46,6 miljoen hektaar tussen kommersiële boere verhandel is. Dit is vir alle grond groter as 10 hektaar.

Oor dié tydperk het die gemiddelde prys van grond van R1 108 per hektaar gestyg tot R10 137 per hektaar. 'n Sterk groei in pryse is vanaf 2008 tot 2016 waargeneem, met 'n gemiddelde van 18,4% per jaar, waarna 'n afplatting volg. Die volhoubaarheid van dié stygende neiging in grondpryse in die landbou, veral teen die agtergrond van die ekonomie van skaal in boerdery en in die huidige tydsgewrig van 'n sukkelende ekonomie, is eintlik 'n groot kwessie.

Verkooppatrone by grond

Die verkooppatrone van grond vir die eerste vyf maande van 2017, vergeleke met dié van 2016, dui daarop dat die grondprys gemiddelde met -3,5% verlangsaam het vanaf R9975/ha tot R 9621/ha (-5,1% vir die eerste vyf maande  van 2017 teenoor die 2016-syfer). Die aantal transaksies is ook geraak, met 1 764 in 2017 teenoor 1 531 transaksies in 2016. 'n Groter toename in die verhandeling van plase kleiner as 50 ha en dié tussen 150 ha tot 300 ha, is opmerklik.

Wat ook van belang is, is die beduidende afname in die aantal transaksies per jaar: Dit het van 9 942 in 2002 verminder tot 4 250 in 2016. Dit weerspieël 'n duidelike afname in die aantal kommersiële boere en die uitwerking van die verskuiwing in die ekonomie van skaal-vlakke.

'n Beskouing van die verhouding van die investering van grond en vaste verbeteringe tot totale kapitaalinvestering in die landbou toon min beweging, met 'n toename van slegs sowat 4% in 2016 teenoor die gemiddelde verhouding vir 2005 tot 2016. Die landbou slaag daarin om bruto produksiewaarde per R1 kapitaalinvestering te laat groei van R0,47 per R1-kapitaal tot R0,58 per R1-kapitaal in 2016 (23,4% oor die tydperk). Dit is 'n goeie prestasie. (Sien tabel 1).

Totale kapitaal-investering in die landbou verhoog vanaf R163,2 miljard in 2005 tot R427,8 miljard in 2016 (dit beloop 162,1%). Terselfdertyd het kapitaal in grond en vaste verbeteringe gegroei van R85,2 miljard tot R231,3 miljard (171,5%).

Bron: Kortbegrip Landbou Statistiek, Departement Landbou Bosbou en Vissery, 2016

Wat is die prys? Landbouskuld neem toe van R36,4 miljard in 2005 tot R145 miljard in 2016. Wat meer is, is die verhouding landbouskuld tot kapitaal-investering verswak van 22,3% in 2005 tot 33,9% in 2016. Dit is 'n progressiewe verloop vanaf 2008.

Die verhouding in produkte gelewer tot landbouskuld verswak ook van R2,38:1 in 2007 tot R1,70:1 in 2016. (sien tabel 1)

Die Suid-Afrikaanse landbou het oor die laaste 11 jaar toenemend van skuld gebruik gemaak om sy prestasie te handhaaf en sy ekonomie van skaal in stand te hou. Landbank-skuld het van 'n vlak van R6,2 miljard in 2005 tot R39,6 miljard in 2016 toegeneem. In 2008 is 'n wesenlike sprong van R9 miljard aangeteken en toon 2007 tot 2016 'n gemiddelde toename van 63,7% per jaar. Lees Tabel 2 hieronder. Hierdie patroon van skuldgroei loop nou saam met die verhoogde neiging in grondpryse vanaf 2008.

In die tydsgewrig waarin die landbou homself nou bevind, hou hergewaardeerde balansstaat-waardes as gevolg van laer grondwaardes, sonder twyfel gevolge in vir baie boere. Teen die verhoogde produksiekoste en 'n versnelling van die skuif van ekonomie van skaal-vlakke is hierdie 'n tyd vir deeglike beplanning en omvattende dag-tot-dag-bestuur van boerderybedrywighede.

'n Hoë risiko-rondspringery agter “oënskynlike” geleenthede aan, is net wat dit is, “hoë risiko”, en kan net in die tyd die dwarslat afstamp en nie lig nie.

Die prys van landbougrond is, en moet, deur die mark bepaal word. Opwaartse fases van enige prys word ongelukkig gevolg deur afwaartse fases om die ewewig te handhaaf. Die landbou bevind hom tans in 'n fase wat met omsigtigheid hanteer moet word.

* Johann Bornman is 'n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions.