Voor ’n grondeis op ’n boer se grond geregistreer kan word, word verskeie vergaderings tussen die grondeienaar, die eiser(s) en die verteenwoordiger van die Kommissie vir die Herstel van Grondregte gehou om vas te stel watter grond betrokke is en om die waarde daarvan te bepaal.

Daarna volg ’n kontrak wat opgestel word deur regsverteenwoordigers van die Kommissie vir die Herstel van Grondregte. Die staat het glo ’n paneel prokureurs aangestel om die oordrag van sulke onteiende grond te behartig. Gewoonlik kies ’n verkoper die prokureur om die oordrag en registrasie van die plaas te behartig, maar in hierdie geval het die verkoper klaarblyklik geen sê nie.

GEVALLESTUDIE

Ek het so ’n ooreenkoms gesien wat onvolledig was en sekere inligting gekort het. Dit was nie deur die koper (die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming) onderteken nie, maar steeds aan die boer gegee vir ondertekening. Die koper teken gewoonlik eerste die aanbod en die verkoper teken laaste om die aanbod te aanvaar.

In dié geval is verwag dat die verkoper (die boer) die onvolledige en ongetekende kontrak eerste moet onderteken. Dit is onaanvaarbaar. Dit is ook vreemd dat die enigste partye tot die ooreenkoms die boer en die Minister was en nie die sogenoemde eiser nie.

Moenie eerste ’n onvolledige ooreenkoms onderteken nie.

Moenie eerste ’n onvolledige ooreenkoms onderteken nie. Wag liewer dat daar gesamentlik geteken word in die teenwoordigheid van sowel die koper as die verkoper en getuies (met hul adresse en selfoonnommers op die ooreenkoms). Maak ook altyd seker almal kry duidelike afskrifte van die ooreenkoms direk nadat dit onderteken is.

BELASTING

By die verkoop van grond is oordragkoste en hereregte deur die koper betaalbaar. Dit is onbekend of die eiser of die staat die oordragkoste en hereregte gaan betaal, maar die boer (verkoper) is verantwoordelik vir die kapitaalwinsbelasting (KWB).

KWB is betaalbaar indien daar ’n wins is tydens die verkooptransaksie nadat die basiskoste (die waarde en koste tydens die verkryging van die grond plus latere opgraderingskoste) van die markwaarde afgetrek is.

Individue betaal sowat 16,4% KWB op die wins. Dit is persoonlike belasting wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verhaal word wanneer die aanslag kom. Is KWB egter wel betaalbaar wanneer die boer gedwing is om sy grond te verkoop?

Op die SAID se webwerf is inligting oor onvrywillige verkope:

Indien ’n mens deur die staat gedwing word om ’n bate (plaas) van die hand sit, word die betaling van KWB oorgehou tot later wanneer ’n vervangende plaas gekoop word. Die KWB word dus nie dadelik betaal in die jaar waarin die grondeis-plaas van die hand gesit is nie.

Die staat wil sien wat jy met die geld (wins) doen.

Die staat wil sien wat jy met die geld (wins) doen. As jy weer grond koop met die volle opbrengs wat jy van die staat gekry het of die waarde daarvan is meer, is geen KWB op die verkoop van die grondeis-plaas betaalbaar nie. As jy minder vir die nuwe grond betaal as wat die wins is, val die kwytskelding weg en moet jy KWB betaal op die verkoop van die grondeis-plaas.

As jy glad nie grond gaan koop nie, sal jy KWB moet betaal. Die nuwe grond moet vir dieselfde doel gebruik kan word as die grondeis-plaas. Die nuwe plaas moet in Suid-Afrika wees. Die nuwe grond mag in ’n maatskappy wees, waar daar net aandele gekoop of besit word deur die boer.

As nuwe grond gekoop word wat ’n gelyke waarde het of duurder is as die opbrengs wat die staat betaal het, moet die nuwe grond binne 12 maande gekoop word om die kwytskelding te kry. Anders verval dit. Die nuwe grond moet binne drie jaar ná die verkoop van die grondeis-plaas in ’n werkende boerdery omskep wees.

’n Mens kan aansoek doen dat die kommissaris bogenoemde tydperke verleng. Hy hou ook gereeld inspeksies om te sien of die reëls van onwillige verkope nagekom is.

Mnr. André Eloff is ’n regs-en-besigheidskonsultant van Allegiance Consulting.

NAVRAE: E-pos: info@allegiance.co.za