Die aankondiging deur adj.pres. Cyril Ramaphosa einde verlede jaar op die ANC-kongres dat grondonteiening sonder vergoeding as ’n voorrangsaak gestel word, het om verstaanbare redes baie ongunstige reaksie in landbougeledere ontlok.

Die grondplafon-plan en beperkings op buitelanders se grondbesit, die infasering van die minimum loon en die afkondiging van die nuwe SEB-kodes vir die landbou in die Staatskoerant van 8 Desember 2017 hang reeds soos ’n swaard oor die landbousektor se kop.

Boonop sukkel die bedryf om te herstel van wat waarskynlik die ergste droogte in Suid-Afrika se geskiedenis is.

As ’n oplossing vir die stadige grondhervormingsproses word ’n nuwe, radikaler plan voorgestel – die sogenoemde vierde beleidsiklus van grondhervorming in Suid-Afrika. Dit sluit die volgende in:

  • Onteiening van grond sonder vergoeding.
  • Die uitbreiding van die regte van die mense wat die grond bewerk (die 50-50-beleid).
  • Die wetsontwerp oor die regulasies ten opsigte van grondbesitreg.

Wat sien die ANC as die uitkoms van grondhervorming in Suid-Afrika? As die ANC se plan en strategie is om eenvoudig soveel grond as moontlik van wit kommersiële grondeienaars te vervreem . . . nou ja . . .

Ek meen egter die plan het ten doel om alle inwoners gelyke geleenthede op grondeienaarskap te bied met die inagneming van geskiedkundige verwringing. Dit is belangrik om te begryp waar ons vandag staan, wat die behoefte aan grond is en wat die beste plan met die beste uitkoms in die belang van alle Suid-Afrikaners is om die doelwitte te bereik.

In hierdie opsig word die Grondwet en die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) vooropgestel.

BELANGRIKE PERSPEKTIEWE

Die aankondiging van die ANC se beleidsresolusie oor grondonteiening moet in die konteks van die uitkoms van die kongres gesien word. Ekonomiese groei, voedselsekerheid en werkskepping is as voorbehoude gestel. Ramaphosa sal waarskynlik Suid-Afrika se bes ingeligte president in die geskiedenis wees wat landbousake betref.

Die inhoud van die Motlanthe-verslag oor onbekwaamheid en die gebrekkige uitvoering van grondhervorming, sal beslis baie aandag kry.

Hy omring hom nie met dwase nie en verwyl nie sy tyd met onsin nie. Onder sy leiding sal nuwe winde beslis in die staatsadministrasie waai, met veral gunstige gevolge vir die landbou. Die inhoud van die Motlanthe-verslag oor onbekwaamheid en die gebrekkige uitvoering van grondhervorming, sal beslis baie aandag kry.

Van 1996 tot 2016 is vyf programme gebruik om grondhervorming in Suid-Afrika te bewerkstellig.

Benewens toekennings vir die verkryging van en vestiging op grond (SLAG), die Regering se program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling (LRAD), die Regering se omvattende steunprogram vir die landbou (CASP), die Regering se strategie vir die verkryging van grond (PLAS) en herkapitalisering- en ontwikkelingsprogramme (RADP) is restitusie- en verblyfregprogramme ook gebruik.

In die proses is reeds meer as R45,9 miljard bestee. Die prestasies van die verlede spreek egter vanself.

VRYE MARK LEWENDIG

Grond word teen markverwante pryse op die vrye mark verhandel. Die onafhanklike grondoudit van Agri Development Solutions (ADS), Landbouweekblad en Graan SA het dit onteenseglik bewys. Die mite van ’n gewillige koper en van ’n “onwillige verkoper” kan dus sonder ’n grafsteen begrawe word.

Uit tabel 1 kan ’n mens aflei private mense van kleur het meer as twee keer soveel grond as die Regering gekoop. Selfs met private grondverkryging wat deur Regeringshulpskemas ondersteun is, is die verhouding nog 1:1. Dit blyk ook dat markverwante pryse betaal is, ook wat betref grond wat by kommersiële boere gekoop is.

Van Januarie 1994 tot November 2017 het altesaam 128 601 transaksies vir grond van meer as 10 ha plaasgevind. Daarvan was 17 431 transaksies van kleur, waarvan 14 016 (80,4% van dié totaal) deur private individue was. Die res – 19,6% – is deur die Regering gedoen. Mense van kleur koop dus eiendom. Die Regering moet eerder konsentreer op diegene wat gehelp moet word.

LANDBOUGROND VERMINDER

Volgens die 1993-sensus het landbougrond altesaam 97 036 986 ha beslaan, waarvan kommersiële boere 82 557 220 ha en eienaars van kleur 14,5 miljoen ha (14,9%) besit het. Sedert 1994 is meer as 3,6 miljoen ha kommersiële landbougrond aan ander uitbreidings afgestaan, hoofsaaklik weens die uitbreiding van stad- en dorpsgebiede, mynbou, natuuurbewaring en bosbou.

Die ADS-grondoudit toon Suid-Afrikaanse landbougrond het in 2016 ’n totaal van 93 453 558 ha beslaan. Daarvan besit wit kommersiële boere 73,3%, teenoor 26,7% deur eienaars van kleur.

Gemeet aan landboupotensiaal besit mense van kleur tans 46,5% van die waarde van landbougrond.

Grondoordrag in 1994, wat insluit die voormalige tuislande, selfregerende state en trustgronde, word bereken op 18 036 773 ha, waarvan landbougrond nagenoeg 14,5 miljoen ha (80,4%) beslaan. Die oudit wys dat 12 141 780 ha herverdeel is en besit word deur mense van kleur.

Dit bestaan uit 2,8 miljoen ha grond wat deur die staat gekoop is, 3,2 miljoen ha waarop grondeise betrekking het en grond wat terugverkoop en uitbetaal is, 4,2 miljoen ha private aankope (self gefinansier) en 1,9 miljoen ha private aankope (gefinansier deur hulpskemas).

Dié syfer sluit nie voormalige tuislandgrond of die restitusie van 3,7 miljoen ha aan hoofsaaklik trusts van voormalige tuislandgrond in wat deur die Regering oorgedra is nie.

In vier provinsies besit mense van kleur tans meer as 40% van die landbougrond, naamlik 73,5% in KwaZulu-Natal, 52% in Limpopo, 48,3% in die Oos-Kaap en 45,3% in Noordwes. Bereken teen 2016 se waardes besit mense van kleur 29,1% van die waarde van landbougrond.

In die vier provinsies wat hierbo genoem word, is die waarde meer as 40%. En gemeet aan landboupotensiaal besit mense van kleur altesame 46,5% van die grond. In KwaZulu-Natal beloop dit 76,1%, in Limpopo 64,7%, in die Oos-Kaap 54,1% en in Mpumalanga 44,7%. Volgens die grondoudit is meer as 12% van grondaktes vir transaksies van meer as 10 ha in die naam van vroue.

TEL SEB BY

Dit is belangrik om eienaarskap wat deur middel van swart ekonomiese bemagtig (SEB) oorgedra word, formeel by syfers oor grondhervorming te tel. Tot dusver doen die Regering dit nie. Net boere met ’n omset van meer as R10 miljoen word deur die nuwe SEB-kodes vir die landbou geraak.

Volgens 2007 se landbousensensus het 70-80% van boere ’n omset van minder as R10 miljoen. Kwalik 6 500 boere word dus geraak; die instansies met die groot omsette is eerder landboubesighede en verskaffers van produksiemiddele. Mettertyd sal dit egter wél ’n uitwerking op grondeienaarskap hê.

OPLOSSING ONDER ALMAL SE NEUS?

Verskeie kommentators het reeds daarop gewys dat dit moeilik gaan wees om die ANC se beleidsbesluit oor onteiening uit te voer. Almal is dit egter eens dat toegang tot grond vir alle inwoners onderhandelbaar is.

Groot hoeveelhede onbenutte grond in die Regering se hande kan ’n reuseverskil maak om in mense van kleur se behoefte aan grond te voorsien (lees die inligting “Onbenutte staatsgrond” onderaan hierdie artikel).

Dit kan teen ’n minimale koste gedoen word, veral ten opsigte van diegene in die onderste deel van die samelewing waar die behoefte in ’n skeefgetrekte ekonomie groot is. Landbougrond word deurlopend deur ander sektore oorgeneem, wat kommersiële eienaarskap laat afneem.

Die proses is deel van ontwikkeling en verstedeliking en die gevolge daarvan sal in die toekoms baie toeneem. In dié proses is die mynbou ’n regstreekse vernietiger van landbougrond.

Teen die agtergrond van die artikel kan tereg gevra word: Watter basisjaar word gebruik vir grondhervormingsdoelwitte en wat word bygetel of uitgesluit? Word voormalige tuislandgebiede ingesluit of nie?

Landbougrond in dié gebiede is ’n al hoe betekenisvoller deel van die beskikbare landbougrond in Suid-Afrika. Indien die doelwit is dat 20% van die grond in munisipale distrikte teen 2030 in die hande van boere van kleur moet wees, is nog ’n belangrike vraag hoe die distrikte wat reeds “oorpresteer”, die res raak. En wie gaan die elemente van eienaarskap bymekaar tel om boek te hou van die vordering?

DIE PAD VORENTOE: DOEN DíT

Belangrike padkaart. Stel die Grondwet en die NOP voorop as deel van die padkaart. Help die breë, onderste vlak van die samelewing om toegang tot en eienaarskap van grond te kry en los ander mense en die mark uit. Almal wil nie boer nie en almal wil nie groot plase besit nie.

Grond wat reeds beskikbaar is. Gebruik grond waartoe die Regering reeds toegang het. As verstedeliking en ’n behoefte aan grond deur mense van kleur in ag geneem word, kan groot vordering op ’n bekostigbare en eenvoudige wyse bewerkstellig word.

Tuislandgrond. Ontbondel grond in die voormalige tuislande en selfregerende state. In die geval van trustgrond kan bestuursreëlings gevestig word om deur staatwaarborge en finansiers boerdery-ontwikkeling in dié gebiede te bewerkstellig. Ontwikkeling is noodsaaklik in belang van die gemeenskappe.

Hersien bestaande grondhervormingsprosesse en maak dit vaartbelyn. Grondonteiening gaan geen beter bydrae lewer tot die proses en tempo van grondhervorming nie. Dit is ook geen waarborg om armoede en werkloosheid te beveg nie. Die beleid is dus teenproduktief. Soos die Motlanthe-verslag aandui, kan die regstelling van bestaande gebreke in die proses ’n groot verskil maak.

Die volgende moet gedoen word:

  • Skep ’n enkele struktuur (nie net ’n enkele staatsdepartement nie), wat na grondhervorming omsien, bestaande uit die Land Bank, landboubesighede, die kommersiële landbou, ander finansiële instellings, asook ’n staatsdepartement.
  • Stel ’n proses van keuring, evaluering en monitering van nuwe grondeienaars vas. Die Regering is nie alleen te blameer vir die mislukking van grondhervorming nie. Baie nuwe grondeienaars het in die verlede om die verkeerde redes en met die verkeerde ingesteldheid op plase beland.
  • ’n Gestruktureerde ondersteuningsnetwerk met ’n ontwikkelingsplan is nodig vir elke projek. Dit sluit die herkapitalisering van bestaande en nuwe projekte in. Die staat en die hele ondersteuningsnetwerk moet betrek word en medeverantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Respekteer verskillende groottes en modelle. Suid-Afrika se landboustruktuur is meervlakkig. Dit bestaan uit groot verskaffers (boere) met ’n grootliks regstreekse verskafferslyn, middelslag- en kleinboere wat van ’n breëbasis-produkverhandelingsplatform gebruik maak, en – derdens – bestaansboere.

Boere van kleur het voorheen hoofsaaklik ’n bestaansboerdery-ingesteldheid gehad. Dié benadering is vandag nog deel van ’n groot deel van die afgeleë platteland. Daar moet steeds voorsiening gemaak word vir dié model, maar met groot omsigtigheid.

’n Kleinplasie-plan gaan nie voedselsekerheid volhoubaar in stand hou nie. Plase in Suid-Afrika is lank reeds volgens skaalekonomie in grootte en gebruik verdeel. Grondpotensiaal en klimaat bepaal in ’n groot mate hoe in Suid-Afrika geboer word en markstruktuur bepaal die boere- en boerderyprofiel. Meer as een model is dus nodig.

GEÏNTEGREERDE BENADERING

Dieselfde boere wat in die visier van die 50-50-grondverdeling tussen boere en plaaswerkers is, word deur SEB-teikens, grondplafonne en moontlike onteiening bedreig. Die uiters nadelige gevolge van die toepassing van dié beleidsrigtings spreek vanself. Om ’n koek te verdeel, het nog nooit eens onder die beste vriende gewerk nie.

Die gevolglike verskuiwing van die skaalekonomie-vlakke sal groot boere raak en die middelslag- en kleinboergroepe eenvoudig vernietig. Volg ’n geïntegreerde benadering waar ’n boer of boerderygroepe saam met die Regering en/of die Land Bank die buurman se grond in die naam van plaaswerkers koop ingevolge grondhervormingsreëls ten opsigte van rente en finansiering.

Só word die 50-50-strategie op ’n meer haalbare, volhoubare en risikobeheerde manier hanteer. Benewens grondhervorming en SEB kry skaalekonomie ook aandag deurdat op meer grond met dieselfde werktuie geboer kan word.

Sekuriteit vir produksiekoste- en finansieringsreëlings kan ook ingereken word. ’n Bestuurs- en aandeelverwateringsreëling saam met ’n ontwikkelingsplan vir die nuwe eienaars moet deel vorm van projekte. ’n Meer lewensvatbare en breëbasisbenadering is nodig vir grondhervorming en om mense te bemagtig. Uit vorige uitsprake is dit duidelik dat Ramaphosa dit verstaan.

Dit is belangrik dat die doelwitte en uitkoms van al die beleidsrigtings wat landbougrond en grondhervorming raak, op ’n manier saam verreken word. Ons leef in ’n wêreld van wigte en teenwigte wat deur die ekonomie bepaal word. Tyd bring balans, ook in grondeienaarskap en gebruik.

Suksesvolle kommersiële boerdery word nie deur kleur bepaal nie. Suid-Afrika se ekonomiese en landboudinamika verskil hemelsbreed van dié van Zimbabwe. Grondvergrype in Zimbabwe het regstreeks tot die ineenstorting van die ekonomie bygedra.

Suid-Afrika het ’n baie meer robuuste landboustelsel en -ekonomie en ’n gevestigde kapitalistiese onderbou en demokrasie. Ons breë mense-ingesteldheid is ook een van meelewendheid. Ons kan dinge laat werk. Grond en eienaarskap is nie net ’n landbou-ding nie. Ander partye moet op ’n baie hoër vlak saam met die landbou oor dié kwessie praat.

As dit oor grondeienaarskap gaan, is dit net té maklik om die landbou voor te stoot en kanonvoer daarvan te maak. Die Suid-Afrikaanse landbou kan en sal deur dié knik kom.

SKULD EN DIE BANKSEKTOR

Teen 2016 se waardes was daar altesaam R427,7 miljard in die primêre landbou belê, waarvan R231,3 miljard in grond en vaste verbeterings, R65 miljard in masjinerie en toerusting en nog R131,4 miljard in lewende hawe was.

Teen die einde van die boekjaar 2017-’18 beloop landbouskuld na verwagting meer as R160 miljard. Daarvan word ongeveer 62% deur banke en 27,3% deur die Land Bank opgeneem.

’n Ondeurdagte beleidstrategie ten opsigte van grondhervorming, soos onteiening, sal tot ’n ineenstorting van die banksektor lei. Die res van die landbou (grondpryse, belegging en balansstate) en die hele platteland sal geknou word.

Dit sal ’n uitkringende nadelige uitwerking op stedelike ontwikkeling, die voedselvoorsieningsketting, ekonomiese groei en werkverskaffing hê. Die groot vraagstuk is wat in die geval van onteiening met masjinerie, toerusting en skuld gaan gebeur.

ONBENUTTE STAATSGROND

Op ’n onlangse vraesessie in die Parlement het dit aan die lig gekom dat die Regering meer as 12 000 onbenutte eiendomme het. Dit beslaan nagenoeg 1,9 miljoen ha, waarvan 1,64 miljoen ha as plase geklassifiseer is. Laasgenoemde syfer verteenwoordig 1,8% van die beskikbare landbougrond, soos bereken in die grondoudit.

Die beraamde munisipale waarde van hierdie onbenutte grond is bykans R12 miljard. R9 miljoen is reeds aan herstelwerk aan sommige van dié eiendomme bestee (sien ook “Regering doen niks met dié grond”). Die eiendomme is hoofsaaklik in Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Wes- en Oos-Kaap.

Tabel by onbenutte staatsgrond.

Van die 2,9 miljoen ha beboude grond in Suid-Afrika word 2,2 miljoen ha as “townships, informele gebiede en dorpies” geklassifiseer. Die oppervlakte van 1,64 miljoen ha ongebruikte landelike grond verteenwoordig 74,5% van dié syfer – ’n wesenlike verhouding.

Dit bevestig die argument dat daar aansienlike oppervlaktes munisipale grond in en om dorpe beskikbaar is om verstedeliking aan te pak en grondeienaarskap vir mense van kleur te bied. Meer as 64% van Suid-Afrika se bevolking van meer as 56 miljoen mense is verstedelik. Dit beteken daar is tans 1,7 ha landbougrond per mens.

Teen 2050, met ’n bevolking van 77,7 miljoen en ’n verstedelikingskoers van 75%, sal die verhouding afneem tot 1,2:1. Volgehoue voedselsekerheid sal in die gedrang kom indien daar nie produktief gewerk word met alle beskikbare landbougrond nie.

Mnr. Johann Bornman is voorsitter van ADS Solutions, wat die nasionale grondoudit oor die afgelope 21 maande gedoen het met die samewerking van Landbouweekblad, Landbou.com en Agri SA.