Mnr. Piet Warren, bekende wild-en-beesboer van Gravelotte, sê die pryse van grond waarop daar in Limpopo tradisioneel met wild en beeste geboer is, het oor die laaste kwartaal van verlede jaar met tot 60% verlangsaam.

“Dit het skielik baie moeilik geword om ’n plaas te verkoop,” sê Warren. “Niemand in hierdie omgewing is lus om ’n plaas te koop nie en ek kan hulle nie kwalik neem nie. Hoe kan jy vandag iets koop as jy môre nie gaan weet of dit nog enige waarde gaan hê nie?” 

Eerder die swak wildmark?

Mnr. Philé van Zyl van die varsprodukte-reus ZZ2 gee toe dat die waarde van sekere plase dalk drasties verlangsaam het, maar sê dit het eerder met die swak wildmark te doen as met politiek. Hy sê besproeiingsgrond waarop groente en ander hoëwaardegewasse verbou word, is steeds duur en daar is geen teken van pryse wat daal nie.

Warren sê as wild-en-beesboer sal hy egter nie nou in grond belê nie. Hy sê ook boere wat uitvoergewasse, soos avokado’s en sitrus, verbou, sal daarby baat vind as die Regering grond sonder vergoeding probeer onteien. “Dit sal die rand se waarde laat tuimel en uitvoerders sal duisende rande vir hul produkte in die buiteland verdien.” 

Kopers bly nie op plase nie

Mnr. Nico Kruger is ’n eiendomsagent van Limpopo wat hom op die bemarking van plase toespits. Hy bevestig dat wild- en leefstylplase se waarde met omtrent 50% verlangsaam het. Hy skryf dit toe aan die swak pryse wat skaars en eksotiese wildsoorte verlede jaar behaal het, die impak van 2016 se droogte, asook die trae ekonomie. Kruger sê landelike veiligheid en politiek dra ook in ’n mate daartoe by, want nie een van die kopers wat nou grond koop, gaan bly op die plase nie, sê hy.

Hy sê die kopers is byna almal uit stede in Gauteng en hulle koop die plase kontant. Hulle onderhandel en druk verkopers tydens transaksies vir soveel ekstras as moontlik.