Só het mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, die grootste waarde van die gesamentlike grondoudit deur Agri Development Solutions (ADS), Agri SA en Landbouweekblad uitgespel tydens die amptelike bekendmaking daarvan in Pretoria.

“Die syfers bring hoop. Alles is nie so sleg soos wat altyd voorgehou word nie. Syfers wat dikwels deur politici uit die lug gegryp word om populistiese stellings te maak, is nou as onwaar bewys. Nou is daar ’n grondslag waarvan gewerk kan word in die openbare debat oor grond.”

Hy sê die syfers wys ook daar hoef nie ’n radikale pad met grondhervorming geloop te word nie. “Dit kan op ’n konstruktiewe en ekonomiese wyse gedoen word omdat die mark werk en die private sektor ’n belangrike bydrae lewer. Al wat nodig is, is ’n vennootskapsbenadering en finansieringsmodelle.”

Die oudit, wat gekonsentreer het op transaksies vir landbougrond van 1994 tot 2016, het getoon dat voorheen benadeeldes nou hektaargewys 26,7% van die totale hoeveelheid landbougrond in Suid-Afrika besit, teenoor sowat 14,9% in 1994. Wit boere besit nou 73,3% van die landbougrond teenoor 85,1% in 1994.

ADS se navorsing het ook die grond se waarde in ag geneem. Daarvolgens word 29,1% van die waarde van landbougrond deur voorheen benadeeldes besit. In Limpopo en KwaZulu-Natal is dit meer as 50%.

Van die land se hoëpotensiaal-landbougrond is 53,5% in die hande van kommersiële boere wat toegang tot finansiering het. Die ander 46,5% is in die hande van die staat of voorheen benadeeldes en daar is nie finansiering beskikbaar nie.

Openbare debat en grondplan

Kriek sê Agri SA sal nou help om hierdie syfers deel van die openbare debat te maak en ook sy deel doen om die ontwikkelingsdoelwitte vir grondhervorming te help bereik.  

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê in die lig van die nuwe stel syfers sal ’n grondplan ontwikkel word wat met die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Grondwet strook. Daar is reeds ’n finansieringsplan ontwikkel wat dit moontlik maak om baie meer opkomende boere toegang tot markte te gee.

Hy het daarop gewys dat die Regering jaarliks R22,2 miljard aan grondhervorming bestee en 124 000 begunstigdes op sy databasis het. Agri SA se bedryfsorganisasies het die afgelope boekjaar R313 miljoen aan hervormingsprojekte bestee en in die proses 104 710 ontwikkelende boere gehelp. “Die private sektor is eenvoudig net beter gerat om transformasie te laat werk. Die oordrag van grond binne die private sektor geskied dubbel so vinnig as wanneer die Regering betrokke is,” het Van Zyl gesê.

Hy meen as die Regering R40 miljoen per jaar vir vyf jaar aan Agri SA se ontwikkelingsmodel toewys, kan daar in die eerste jaar R2 miljard deur die onderskeie finansieringsmodelle gegenereer word om nuwe boere te ontwikkel en hervorming aan te help. ’n Voorwaarde is dat die nuwe boere eiendomsreg moet hê.

“Daar hoef nie werkloosheid, armoede en wanhoop in Suid-Afrika te wees nie. Met landbou-ontwikkeling kan die land op ’n pad van voorspoed geplaas word.” 

Kriek het gesê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het kennis geneem van die oudit en hy hoop dat hulle binnekort ’n gesprek daaroor sal kan voer.

Die Regering beoog om ook binnekort sy eie oudit bekend te maak.