Toe die mens nog ’n jagter-versamelaar was, was die meeste antieke stamme se grondeienaarskap beperk tot die gebruik van die voedselbronne wat in ’n gebied beskikbaar was. Dié reg was ook net aan lede van ’n spesifieke stam beskikbaar en het ander stamme pertinent, selfs met geweld, daarvan uitgesluit.

Indien daar enigsins private regte aan die grondgebruik gekoppel was, was dit gewoonlik onderworpe aan die goedkeuring van die res van die stam en het dit geëindig sodra die grond nie meer gebruik is nie. Die verkoop van grond was dus nie ’n moontlikheid nie of dit was uitdruklik verbied.

Selfs die vererwing van grond was oorbodig omdat elke mens reeds gebruiksreg op die grond gehad het op grond van die blote feit dat hy ’n lid van die stam was. Die ontwikkeling van die eerste gevestigde landbougemeenskappe het die mens se verhouding met grond egter meer gekonsentreerd gemaak.

Die herhaalde bewerking van dieselfde stuk grond, die verbouing van plante en die makmaak van diere, asook die ontstaan van permanente wonings daar rondom, het daartoe gelei dat al hoe meer regstreekse beleggings, hetsy in arbeid of strukture, op ’n spesifieke plek begin plaasvind het.

Tog het dit nie onmiddellik gelei tot wat vandag as eiendomsreg geag word nie. Hierdie antieke gemeenskappe het steeds ’n intieme spirituele verbintenis met die grond gehad en het dit in baie gevalle onder beheer van die nedersettings se hoofraad geplaas.

Mettertyd het die hoofrade sekere voorregte en beheer van sekere dele van die grond aan die regerende elite begin toeken op die blote grondslag van politieke gunste. Dit het daartoe gelei dat grondgebruik ’n nuwe betekenis begin kry het, naamlik die uitsluiting van die gebruik daarvan deur ander, ’n bron van politieke mag en, helaas, ’n instrument wat vir ander doeleindes as blote produksie gebruik kon word.

Die mens se gierigheid na mag het geleidelik die oorheersende faktor geword waarmee sy verhouding met grond gedefinieer is.

OORLEWING VS. ONTWIKKELING

Die vroeë kommunale ekonomieë in Suid-Afrika het een gemeenskaplike kenmerk gehad, naamlik dat die grond deur die stam besit is vir die gebruik van die groep as ’n geheel en dat geen individu binne die stam die gebruik daarvan ontsê is nie.

Die belangrikheid van hierdie aspek moet gesien word teen die feit dat kommunale landboubedrywighede en die beskerming van water- en voedselbronne verreweg die hoofbestaansrede van hierdie samelewings was. Dit het dus gegaan om “oorlewing” en nie oor “ontwikkeling” nie.

Toe Jan van Riebeeck in 1652 ’n handelspos aan die Kaap begin het, het Suider-Afrika onvermydelik tot die moderne wêreldekonomie toegetree. Die streek se mate van deelname is drasties versnel toe diamante in die Noord-Kaap en later goud in huidige Johannesburg ontdek is.

Daardeur is daar oornag ’n omvangryke mark vir arbeid en landbouprodukte geskep. Die groeiende bevolking aan die Rand en in die hawedorpe het ’n groot mark vir landbouprodukte geskep. Dié aansporing het nie alleen verhoogde produksie nie, maar ook ’n verbetering van kuddes en ’n vernuwing in boerderymetodes tot gevolg gehad.

Daarmee saam het die ontwikkeling van die vervoerstelsel die verspreiding van landbouprodukte vergemaklik. Suid-Afrika se rykdom aan minerale het dus uiteindelik daartoe gelei dat die mynbou ook nywerhede, finansiële instellings en ’n arbeidsmag tot stand laat kom het wat deur ’n kommersiële landbousektor gevoed kon word.

Plaaslike stamme het aanvanklik vrywillig aan die nuwe ekonomiese stelsel deelgeneem en wildsvleis, lewende hawe, vuurmaakhout en landbouprodukte aan die handelsentrums verskaf. Aanvanklik het hulle met sukses die nuwe geleenthede benut, maar die kommunale ekonomieë kon later nie bybly met die voortdurende styging in die vraag na hul produkte nie.

Grond is in die proses onvermydelik hervorm van ’n medium wat arbeid en sekerheid aan die groep kon verskaf in ’n instrument wat grootskaalse surplusse aan die mark moes voorsien. Die ekonomiese werklikheid daaraan verbonde was egter dat grond noodwendig self ’n verhandelbare item met ’n waarde van sy eie geword het.

Die kommunale samelewings het op grond daarvan mettertyd groot dele van hul grond verkoop of verruil. Saam met kulturele oorsake, het ekonomiese kragte, en nie politieke besluite nie, eenvoudig die losstaande kommunale bestaansekonomieë met ’n enkele kapitalistiese, produserende ekonomie vervang. Teen 1913 was dit reeds die situasie, en nie weens die Wet op Naturelle-grondbesit van 1913 nie.

EKONOMIESE FAKTORE

’n Eeu later staan die Suid-Afrikaanse bevolking op 53 miljoen, van wie 62% (33 miljoen) in stede woon.

Grafiek 1 toon ook aan dat die beskikbare kommersiële landbougrond tans 82,2 miljoen ha beloop. Die bevolking neem oor die bestek van tien jaar met ongeveer 15% toe.

Teen hierdie tempo sal die bevolking in 2035 sowat 70 miljoen beloop. Teen die huidige tempo van verstedeliking sal daar 52,6 miljoen (75%) Suid-Afrikaners in stede bly. Terwyl die bevolking groei en al hoe meer mense na die stede trek, word landbougrond net minder, nie meer nie.

Die rede is tweeledig. Eerstens moet plase om die groter wordende stede vir huisvesting ingeboet word, en tweedens word al hoe meer plase vir mynbou opgeoffer. Soos genoem, is daar tans sowat 82,2 miljoen hektaar kommersiële landbougrond beskikbaar. Projeksies dui daarop dat dit tot 70,2 miljoen in 2035 kan afneem.

Daarteenoor toon grafiek 2 dat elke boer gemiddeld 1 500 mense van die bevolking voed en dat daar tans 1,551 ha vir elke lid van die bevolking beskikbaar is om dit te kan doen.

Op grond van die geprojekteerde bevolkingsgetalle en die afname in landbougrond, asook ’n verwagte daling in die aantal boere, sal elke boer oor twintig jaar van nou 3 472 mense moet voed, terwyl daar net 1,102 ha grond per lid van die bevolking daarvoor beskikbaar sal wees.

Die doel van die ANC en EFF se mosie om grond van (wit) kommersiële boere sonder vergoeding te onteien, blyk op die oog af te wees om ’n groot aantal klein (swart) boere toegang tot die landbou te bied.

Klein boerderye is uiters swak geposisioneer om in die stedelike markte se vraag te voorsien. foto: ?Bright ?Mashiyana

Hoewel klein boerderye in sommige aspekte doeltreffender as groter boerderye kan wees en waarskynlik ook meer arbeidsintensief is, is klein boerderye uiters swak geposisioneer om in die stedelike mark met sy kopersgedrewe waardeketting se vraag te voorsien.

Verder is hulle ook in ’n swakker posisie om finansiering vir produksiemiddele en moderne trekkers en werktuie te bekom.

Indien dit wel die geval kan wees dat ’n groot aantal kleinboerderye genoeg voedsel aan die verstedelikte bevolking kan voorsien, is daar steeds die kwessie van ’n oorgangstydperk om van die 35 000 kommersiële boere ontslae te raak sonder om voedselsekerheid in te boet.

Na regte maak dit glad nie sin om die ideologiese, politieke oorloë op grond van groot of klein of wit of swart boere te wil voer nie. Die realiteit is dat toe die proses van grondrestitusie in 1994 begin is, daar teen Desember 1998 altesaam 79 700 geldige eise ontvangs.

In 2013 het mnr. Gugile Nkwinti, voormalige Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, daarop gewys dat van die 76 000 afgehandelde eise slegs 5 856 (8%) restitusie verkies het, terwyl die res (92%) finansiële vergoeding wou hê. Hy reageer hierop deur te sê: “We thought everybody when they got a chance to get land, they would jump for it. Now only 5 856 have opted for land restoration.”

Hierdie uitslag mag dalk vir die ANC ’n verrassing wees, maar die ekonomiese werklikheid is dat mense wat arm en werkloos is én teen ’n tempo aan die verstedelik is, nie grond soek om hul armoede deur middel van harde werk te verlig nie. Nkwinti bevestig dit self met dié woorde: “We no longer have a peasantry; we have wage earners now.”

POLITIEKE FAKTORE

Nêrens ter wêreld het grondhervorming nog ekonomies sin gemaak waar die staat die eienaar van die grond geword het nie. Die teendeel is eerder waar.

Voorbeelde hiervan is in Oos-Europa te vinde waar baie plase ná die ineenstorting van die Sowjetunie geprivatiseer is of China wat met sy household responsibility system die boere, en nie die staat nie, verantwoordelik vir winste én verliese gemaak het.

In albei hierdie gevalle het die landbou se produktiwiteit merkbaar verhoog teenoor wat dit onder die voormalige kommunistiese eienaarskap was.

Waar dit gaan oor regeringsgeïnspireerde veranderinge aan wetgewing om private eiendom, meestal landbougrond, van ’n klein groepie welvarende mense na die staat as “beskermheer” van ’n groot aantal arm mense oor te dra, is die mislukking van grondhervorming aan die orde van die dag.

Dit is ongeag of dit met of sonder vergoeding gedoen is. Ironies genoeg, dit gaan in sulke gevalle ook nie werklik oor die grond self nie, maar oor die simboliek wat grond se magstatus as materialistiese metafoor aan die armes kan bied. Op grond van 2014 se verkiesing verteenwoordig een setel in die Parlement sowat 46 000 stemme.

Die beraamde 35 000 kommersiële boere is dus nie eens genoeg om een setel in die parlement te verower nie, al sou hulle almal dieselfde politieke party ondersteun. Op dieselfde grondslag kan Suid-Afrika se 6,2 miljoen werkloses 135 setels in die parlement verteenwoordig indien hulle hul stemme agter een party ingooi.

Voeg daarby die 95 setels wat die 4,4 miljoen mense wat ouderdomspensioen en ongeskiktheidstoelaes van die staat af ontvang, dan bied Suid-Afrika se armstes van die armes die meerderheid setels in die parlement vir ’n party wat bereid is om hulle sentimente op die hart dra.

Die najaag van hierdie stemme is duidelik sigbaar uit die afgelope drie maande se politieke gebeure. Of die ANC dit wil erken of nie, die aanvaarding van die mosie om grond sonder vergoeding te onteien, was die gevolg van twee faktore. Eerstens wil hy daardeur die EFF se meedoënlose veldtog oor die nasionalisering van grond neutraliseer.

Tweedens was dit ’n poging van die Zuma-kamp om hul volgehoue stroping van staatsbates te regverdig. Toe die EFF die inisiatief in die Parlement probeer terugwen en ná die staatsrede sy eie mosie oor grondonteiening ter tafel lê, het die ANC agterna gespring met wysigings sodat dit nie lyk of hy gaan agter bly om grond aan arm, swart mense te gee nie.

Dit is ten spyte daarvan dat die ANC in 2014 ’n aanbod van die EFF van die hand gewys het om ’n soortgelyke mosie ter tafel te lê. Die slagspreuk “onteiening sonder vergoeding” is musiek in die ore van dié wat geen ekonomiese bydrae lewer nie, maar tog politieke wraak wil neem op ’n denkbeeldige kapitalistiese onderdrukker.

Dit is solank hulle onder die indruk gehou kan word dat die 82,2 miljoen hektaar “gesteelde” kommersiële landbougrond die oorsaak van hul armoede is. Die werklikheid is egter dat die verruiling van 35 000 boere se eiendomsreg vir 230 setels in die Parlement ’n resep vir ekonomiese selfmoord vir die hele nasie is.

Politici gaan nogtans skaamteloos voort om van die landbou ’n politieke pandjieswinkel te maak waar voedselsekerheid vir arm kiesers se stemme omgeruil kan word.

Volgens Landbouweekblad se onafhanklike grondoudit het Suid-Afrika sowat 76 miljoen hektaar kommersiële landbougrond. Ramings gegrond op die spoed waarteen hervorming natuurlik geskied, dui daarop dat sowat 31,2 miljoen hekaar (byna 41%) van die totale beskikbare landbou- grond teen 2030 deur mense van kleur besit sal word. foto: Myburg ?Du ?PLessis

VERTROUE IN DIE LANDBOU

Die onteiening van grond sonder vergoeding maak van grond ’n waardelose bate en ontneem dit van sy produktiewe funksie. Grond op sigself is nie geld nie en kan nie armoede verlig nie.

Brasilië, Kambodja, Mali, Peru en Tanzanië het uitsonderlik goed gevaar om armoede te verminder deur klem daarop te lê om werksgeleenthede te skep, lone te verhoog, mense wat daarvan uitgesluit was, weer deel van die ekonomie te maak en die salarisgaping ten opsigte van geslag, geografiese ligging en ekonomiese sektore te vernou.

Dit is luidens die Wêreldbank se verslag oor armoede en gemeenskaplike rykdom van 2016. Die kommersiële landbou kan dieselfde vir Suid-Afrika help doen. Dit is daarbenewens ook die enigste ekonomiese sektor wat die groeiende bevolking kan voed. Genoegsame selfgeproduseerde voedsel is deurslaggewend vir die welvaart van enige nasie.

Daarom is vertroue in landbou terselfdertyd vertroue in ’n land se toekoms. Die vrye mark moet toegelaat word om self die hulpbronne op die produktiefste manier tot voordeel van die hele bevolking se welvaart toe te ken. Die vrye mark doen dit immers baie beter as politici.?

Dr. Philip Theunissen is ’n rekenmeester en landbou-ekonoom van Bethlehem.

BRONNE:

  • Corrigan, T. “A truly radical SONA would tackle the land grab question.” 16 Feb 2018.
  • Cousins, B. “Can land reform help reduce poverty and inequality?” News24, 12 Februarie 2018.
  • Du Toit, A. “Real acts, imagined landscapes: Reflections on the discourses of land reform in South Africa after 1994.”
  • Journal of Agrarian Change, 13(1), 16-22.
  • Geredigeerde uittreksels uit: “Do you own your Land?” WARN, Vol. 1, uitgawe 1a, 4 Julie 1997, bl. 10.
  • Gilman, R. “The idea of owning land.” Living with the Land (IC#8). Winter 1984.
  • Jeffery, A. “ ‘Pressing’ hunger for land? The stats show something different.”
  • News24, 1 Maart 2018.
  • Kallaway, P. Tribesman, Trader, Peasant and Proletarian. 1978.
  • Karp, R. Land Is Not A Commodity.
  • Mkhabela, M. “ANC should beware of becoming ‘flat spare tyre’ on land expropriation.”
  • News24, 2 Maart 2018.
  • World Bank Group. Poverty and Shared Prosperity: Taking on Inequality. 2016.