Hierdie oudit probeer om aan te dui hoeveel grond in private besit is op grond van ras, geslag en nasionaliteit. Dit volg op die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se eerste grondoudit wat in 2013 die lig gesien het.

Dít het aangedui dat die staat 14% of 17,1 miljoen hektaar van Suid-Afrika se grond besit, en dat 79% of 96 miljoen hektaar privaat besit word. Daar is ook ongeïdentifiseerde grond van 8,3 miljoen hektaar of 7%. Hierdie syfers is egter nie onafhanklik bevestig nie.

Die eerste oudit het nie die samestelling van Suid-Afrika se private grondbesit uiteengesit nie en ook nie hoeveel grond buitelanders besit het nie. Hierdie vrae is in die meer onlangse oudit getakel. Die nuutste oudit lê al maande lank by die Kabinet en is onlangs uitgelek aan Landbouweekblad se twee susterkoerante Rapport en City Press.

MISTASTINGS

Volgens die oudit beslaan landbougrond in Suid-Afrika 112,9 miljoen hektaar, terwyl kundiges al lank steun op die 1993-landbousensus, wat dié syfer op 97,03 miljoen hektaar raam. Volgens navorsing deur Agri Development Solutions (ADS), wat met die samewerking van Landbouweekblad en Agri SA ’n omvattende oudit van grondbesit gedoen het, het die landbougrond teen 2016 verminder tot 93,25 miljoen hektaar.

Dit was weens stedelike ontwikkeling, mynbou en die uitbreiding van munisipale grense. Die onbetroubare raming van hoeveel landbougrond in Suid-Afrika is, stel die betroubaarheid van die grondbesit-profiel (tabel 2) in twyfel.

Nog ’n onduidelike stelling in die verslag is dat 111 miljoen hektaar of 97% van plase en kleinhoewes “deur 588 045 of 7% grondeienaars (boere van die totale aantal grondeienaars) besit word”. (Die 111 miljoen hektaar word in die tabelle as 112,9 miljoen hektaar aangedui.)

Dit terwyl daar algemeen in die landbou aanvaar word daar is net sowat 34 000 kommersiële boere en tot sowat 1,2 miljoen bestaansboere in Suid-Afrika. Daar is ook geen aanduiding in die oudit waar die syfer 588 045 vandaan kom nie. Die departement gee egter in sy oudit toe dat hy “ ’n aparte omvattende oudit van landbougrond doen wat gepubliseer sal word”.

MENSE SOEK BLYPLEK

Volgens mnr. Johann Bornman, voorsitter van ADS, is daar iets te sê oor die grondoudit se besitpatrone vir erwe in stedelike gebiede (tabel 3).

Dit is naamlik dat die klem moet verskuif van grondhervorming vir landbou na grondverkryging vir woondoeleindes. Dié besitpatrone, waar 72% van erwe deur mense van kleur besit word en 26% deur wit mense, kom al veel nader aan Suid-Afrika se rassesamestelling. Selfs die verslagskrywers sê “die feit [word] dus bevestig dat die meerderheid erwe primêr vir behuisingsdoeleindes gebruik word”.

Bornman sê daar kan nie nóg geld aan dié fout bestee word nie. Strukture en prosesse moet eerder daargestel word wat mense help om grond in die vrye mark te bekom vir behuising. Daardie soort strukture behoort gekapitaliseer te word, pleks daarvan dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming die geld daarvoor kry.

'Los die mense, los die mark en help diegene op voetsoolvlak om toegang tot eienaarskap van grond te verkry.'

“Los die mense, los die mark en help diegene op voetsoolvlak om toegang tot eienaarskap van grond te verkry. Almal wil nie boer nie en almal wil nie groot plase besit nie. Help die mense met grond waartoe die Regering reeds toegang het.” As ’n mens verstedeliking en die bepaalde behoeftestelling aan grond deur mense van kleur in ag neem, kan groot vordering op ’n bekostigbare en eenvoudige wyse bewerkstellig word.

VOORSTELLE

Onder Bornman se voorstelle om grondhervorming te bespoedig, is die volgende: Ontbondel grond in die ou tuislande en selfregerende state. In die geval van trustgronde kan bestuursreëlings gevestig word om finansiering na boerdery-ontwikkeling te kanaliseer deur middel van staatswaarborge en ander finansiering.

Ontwikkeling is gebiedend noodsaaklik in belang van die gemeenskappe. Hersien en maak die bestaande grondhervormingsprosesse vaartbelyn. Grondonteiening gaan geen verbeterde bydrae lewer tot die proses en tempo van grondhervorming nie.

Dit is ook geen waarborg om armoede en werkloosheid te beveg nie. ’n Enkele struktuur moet tot stand gebring word wat na grondhervorming omsien. Dit behoort te bestaan uit die Land Bank, landboubesighede, die kommersiële landbou, ander finansiële instellings en die Regering.